Huisgenoot se grootste sepie-liefhebber, Almari Wessels, is gek oor Days of our Lives sedert sy net twaalf jaar oud was. Nou dat dié gewilde sepie van môreaand af nie meer uitgesaai gaan word op Suid-Afrikaanse televisieskerms nie, het ons dit goedgedink om haar die kans te gun om vir oulaas haar liefde vir Marlena, Stefano en Samantha te deel.

Ek het in my lewe nog nooit van Days of Our Lives gehoor toe ek as 12-jarige plaaskind ewe skielik na ’n laerskool toe moes gaan waarin meer as agt kinders in ’n klas was nie. Wat ’n openbaring.

Kaalvoet skoolgaan, saalperiodes waar die hele skool in die musiekjuffrou se opslaanklas kon pas en blikaspaai met pouses was die verlede – en kys, danspartytjies en Days of Our Lives die toekoms.

Dit was in 1992 toe ’n skoolmaat my die eerste keer aan die TV-program blootstel waarin ’n uurglas dramaties draai terwyl ’n gesaghebbende stem aankondig: “Like sands through the hourglass, so are the days of our lives.”

En so het dit gebeur dat ek ’n aanhanger geword het van dié sepie, wat wentel om die lot van Salem en sy mense. Eers op universiteit (met ’n verhoogproduksie van Arthur Miller se The Crucible) het ek besef Salem is die einste plek waar wrede heksejagte op vroue uitgevoer is in ’n tyd lank voor Marlena Evans, Stefano DiMera en Samantha Brady hul melodramatiese storielyne op die historiese dorp laat neerdaal het.

Sepie-haters glo dié programme vervuil die kassie en is ’n verregaande pot bog. ’n Mens kan diesulkes nie juis kwalik neem nie as jy herroep hoe ’n demoon Marlena (die geliefde psigiater) al oorgeneem het of hoe Hope Brady al ’n magdom kere soos ’n wafferse Lasarus uit die dood herrys het of hoe byna die helfte van die karakters ’n paar jaar gelede gesterf het en toe teruggebring is onder die voorwendsel dat hulle gevange geneem is op ’n afgeleë eiland.

Maar die kritici sit die pot mis – bog of te nie – sepies hoef nie sin te maak nie; hulle is net. So sit ek eendag rustig by my ouerhuis en televisie kyk toe my ma (beslis nie ’n Days-aanhanger nie) instap.

“Nee, dit kan nie wees nie!” sê sy verbaas, ek kan hoor hoe sy haar asem intrek voor sy na Marlena beduie en vra: “Is daardie blonde vrou nog in die program?”

Ja, natuurlik is Marlena nog in die program, én John Black (die liefde van haar lewe) én Stefan Dimera én Jennifer Horton én Kate Roberts én . . .

Die karakters en hul onverskrokke onsterflikheid is hoekom daar ’n leemte in my lewe gaan wees wanneer die geliefde sepie eindelik op 20 Julie van die Suid-Afrikaanse kassie verdwyn.

Dit maak nie saak hoe vinnig hierdie wêreld van ons verander en of jy sommige dae voel jou lewe is ’n wipwarit en jy beleef net die een krisis ná die ander nie: In Salem bly dinge onveranderd – superryk dorpenaars sal op enige denkbare uur duur whisky uit kristalglase drink, ’n feeks sal verwoesting in ander se huwelik saai of ’n bose magnaat sal mense se lewe soos ’n poppemeester probeer beheer.

En dis waarin die krag van sepies gesetel lê: Iewers, iewers op ’n dorpie ver oor die water is daar eendimensionele mense wat elke dag jou ’n volle 40 minute lank ’n bietjie uit jou eie werklikheid laat ontvlug en jou dankbaar maak dat jy nie swanger is met ’n tweeling wat elkeen ’n ander pa het nie.

[caption id="attachment_131980" align="alignnone" width="600"]Almari Wessels kyk al Days of Our Lives sedert sy 12 jaar oud is. Almari Wessels kyk al Days of Our Lives sedert sy 12 jaar oud is.[/caption]

Ongelukkig het die uurglas vir dié sepie leeggeloop, maar as ek ooit weer 30 Seconds speel en die eierkokertjie omdraai wanneer ’n speelbeurt begin, sal ek aan Days se dramatiese inleidingstoneel dink en wonder wat van Salem en sy mense geword het . . .