Baba Matthew is met ’n beplande keisersnee gebore, en Darren berig dat ma en kind albei goed vaar.

Hy het kort ná die baba se geboorte ’n foto van die oulike, verrimpelde kleinding op Twitter gelaai en gesê: “Matthew Scott gebore om 11.13 vm.! Te oordeel na sy gesigsuitdrukking – ’n Manchester Unite-ondersteuner. Ons gaan werk daaraan. Gesond & geseënd!” Die pa, ’n vurige Arsenal-ondersteuner, het later getwiet: “Matthew se eerste klanke het beslis geklink soos ‘Özil’. Slim mannetjie – het dit selfs met die umlaut uitgespreek. Die Man United-gevaar het oorgewaai.” Hy het natuurlik verwys na die pas oorgeplaaste sokkerster Mesut Özil.

Darren-hulle se oudste seuntjie, die twee en ’n halfjaar oue Mark, het ’n jaar lank ’n stryd gevoer teen nierkanker voor die dokters vroeër vanjaar gesê het hy is gesond.

Die gesin is oorstelp oor die nuwe bondeltjie vreugde.

“Ons is almal baie bly, en Sarah rus en herstel op die oomblik. Matthew slaap al die hele dag en was nog net ’n uur of wat van sy lewe wakker,” het Darren aan ons gesê.

Die paartjie keer Saterdag huis toe met hul nuwe baba.

Ons wens julle net die beste toe!

– Gilda Narsimdas