Zane Dangor, wat in November in dié amp aangestel is, het Woensdag tydens ’n portefeuljekomiteevergadering in die parlement in Kaapstad bekendgemaak hy is na Pretoria ontbied en moet dringend verskoon word.
Dit was nadat die DA-LP Evelyn Wilson in die vergadering genoem het dat Sassa pas hul aansoek om leiding van die konstitusionele hof onttrek het in die kwessie van die Cash Paymaster Services-kontrak. Zane het ná die vergadering aan joernaliste gesê hy het geen besonderhede oor die oproep nie; net dat hy dadelik moet terugvlieg Pretoria toe. Die departement was altyd van plan om ’n aanvullende verslag met ’n verklaring van voorneme by die hof in te dien, het hy gesê.
Minister Bathabile Dlamini het deurentyd die verklaring van voorneme gesteun, het hy in antwoord op ’n vraag van News24 gesê.

Hy het bygevoeg hy weet nie hoekom die aansoek onttrek is nie en sal met die departement beraadslaag wanneer hy in Pretoria is.

Hy het ook gesê die afwesigheid van die huidige uitvoerende hoof, Thokozani Magwaza, het niks te doen met die mislukte aansoek by die konstitusionele hof nie.

Sover sy kennis strek, is Thokozani siek en nie geskors, soos in die media berig is, het hy aan News24 gesê.

CPS-onderhandelings het begin Sassa het intussen met nuwe kontrak-onderhandelings met Cash Paymaster Services begin vir die verspreiding van 17 miljoen maatskaplike toelaes. Sassa se uitvoerende bestuurder vir toelaebetalings, Dianne Dunkerley, het aan die portefeuljekomitee gesê onderhandelings het Woensdag in Pretoria begin en behoort Vrydag afgehandel te wees. Die onderhandelings sal onder meer bepalings van die eienaarskap van begunstigdes se besonderhede insluit. “Dis al wat ek in dié stadium kan sê, maar ek onderneem om die komitee volgende week volledig op die hoogte te bring.”

Dianne het gesê die departement is daartoe verbind om ’n verslag – wat tans deur prokureurs behartig word – by die konstitusionele hof in te dien. Sy het ook beloof nadere besonderhede sal volgende week verskaf word.

Die portefeuljekomitee het hul ontevredenheid uitgespreek dat inligting wat Dinsdag tydens ’n vergadering van die staande komitee op openbare rekenings bekendgemaak is, nie aan die portefeuljekomitee meegedeel is nie.

Dianne en Zane het albei gesê hul opsies het nie in daardie opsig verander nie en dat Sassa nie gereed is nie.

Zane het gesê al is CPS nie die beste keuse nie, is dit op die oomblik die mees praktiese.

Hy het gesê as laaste uitweg het 90 persent van die begunstigdes bankrekenings by Grinrod.

Vir die orige 10 persent sal hulle met Post Bank moet saamwerk en betaalpunte moet gebruik om kontant te versprei.

Bron: news24.com