Elvis se Seun, oftewel Stefan Ludik se oog en kop is nog blou en geswel, maar sy oog is darem al oop.

Al sien sy oog nog dof en pyn dit nogal baie, is dié opstopper nie dié boererocker se grootste probleem nie.

Die groep skiet dié week hul nuwe musiekvideo en nou gaan hy dit met ’n blou oog moet doen.

“Ons het só baie werk en ’n musiekvideo wat my fokus en al my aandag nou vat,” vertel Stefan net ’n paar dae ná hy vloer toe geslaan is.

“Ons moet nou die hele musiekvideostorie probeer verander met my blou oog, want ons gaan sukkel om die shoot te skuif oor ons en die mense betrokke so besig is.”

Stefan is Vrydagaand gepot terwyl hy tydens die pouse van die groep se vertoning by die Emperors Pub & Club in Sasolburg CD’s geteken het.

“Ek ken die ou van geen kant af nie. Ek het hom nie eens gesien of enige iets verwag nie,” sê Stefan.

“Ek het die laaste CD net klaar geteken. Ek het gedraai na ons aantrekkamer om te gaan regmaak vir ons tweede stel van die vertoning toe tref iets my teen my kop en oog van agter af.

“Ek het net neergesak.

“Ek kon niks sien nie. Ek het eers later besef iemand het my ’n hou gegee toe twee mense my optel en aantrekkamer toe vat.”

Wie die man is wat Stefan die opstopper gegee het, weet hy nie. Al wat hy weet is dat die man dadelik uitgegooi is. Maar wat verder van hom geword het, weet Stefan nie.

Lees ook: Bekende sanger en ‘almal se vrind’ kry lelike opstopper by optrede

“Niemand het die aand enige moeilikheid gemaak terwyl ons die eerste stel van die vertoning gedoen het nie. Almal was in só ’n goeie gees en dit was ’n lekker atmosfeer in die plek. Almal het gedans en kom CD’s koop. So dit was heeltemal onverwags en ’n skok vir ons en die mense daar.”

“Dis die eerste keer wat só iets gebeur. Mense nooi ons omdat hulle ons daar wil hê. Ons probeer altyd ons kliënte en mense ons heel beste show gee sodat ons weer genooi word.

“Ons werk hard en doen baie moeite want die mense wat ons bespreek is so opgewonde om ons in hulle dorpies of kuierplekke te hê en doen altyd vreeslik moeite met ons.

“Dis so sleg as daar dan een ou is wat dit vir almal bederf.”

Met die blou-oog en seer kop, het Stefan en die res van die groep die vertoning klaargemaak.

“Gelukkig het my twee groeplede ons goed opgepak en ons terug huistoe (in Johannesburg) bestuur omdat ek niks kon sien.”

Die groep het nog die volgende dag by Vaalwater, in Limpopo, se boeredag ook opgetree. Sonder dat hy enige iets uit sy linkeroog kon sien.

Stefan is nie seker of hy enige klagte by die polisie teen sy aanrander gaan maak nie. In dié stadium het hy net te veel werk om op te fokus.

“Ek voel al beter. Ek is maar net bietjie gespanne oor goed wat ons moet klaarkry vir die week en die video.”