HIER’S ’n eenvoudige vragie: Wat is die belangrikste eienskap vir ’n rugbyspeler? Spiere? Nee. Spoed? Nee. Klop jouself op die skouer as jy gesê het die heel belangrikste is dat hy kan sien . . .

Wat doen jy dan as jy droom van rugby as loopbaan en jy ly aan Stargardt-sindroom, ’n aftakelende oogkwaal wat jou sentrale visie vernietig?

Wel, as jou naam Leon Karemaker (25) is, sit jy alles in en laat niks in die pad van jou drome staan nie. “Daar skort niks met my visie aan die kante nie, daar is bloot ’n swart kol in my sentrale visie,” sê hy.

“Ek was altyd bang ek slaan die bal aan of laat dit val, en daarom het ek ekstra hard gewerk om my tegniek te vervolmaak. Daarom hardloop ek graag met die bal in my hand, en die kans is minder dat ek dit gaan laat val,” sê die skraal losvoorspeler van die Cheetahs.

Nes sy Cheetah-spanmaats vat hy nou ’n blaaskans van strawwe Superrugby, en vandag ontspan hy saam met sy meisie, Elizma Marais (20), in die oggendson in Kimberley. Sy pet, wat sy oë moet beskerm, is laag oor sy kop getrek.

Hy het al in vanjaar se Superrugby-toernooi in twee wedstryde vir die Cheetahs gespeel.

“Ek het my kans gekry omdat die Cheetahs onder soveel beserings deurgeloop het. Ek het toe die oproep gekry, en ek gaan alles insit om te bewys ek hoort daar.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 28 April 2011