Die rubik-kubus, ’n ou kindergunsteling, is vandag steeds ’n moet vir kinders. Ter viering van sy 40ste bestaansjaar op Maandag 19 Mei kyk ons na sy geskiedenis... en toekoms.

Waar dit alles begin het

Die rubik-kubus is ’n 3D-kombinasie-legkaart wat in 1974 uitgevind is deur die Hongaarse beeldhouer en professor in argitektuur Ernó Rubik. In ’n klassieke rubik-kubus is elk van die ses sye bedek in nege plakkers in een van ses kleure – wit, rooi, blou, oranje, groen of geel. ’n Interne draaimeganisme laat elke blokkie toe om onafhanklik te draai en die kleure te meng. Om die raaisel op te los moet elke sy weer een kleur vertoon.

Hoekom moet jou kinders met dié speelding speel?

Om probleemoplossing in die vroeë kinderjare te leer is belangrik, en ’n rubik-kubus kan ’n kind se denkprosesse in daardie opsig verbeter en hul aandagspan verleng. Die speelding kan ook jou kind se vingervaardigheid en hand-breinkoördinasie verbeter. Verder kan dit ook geheue verbeter omdat jy ’n reeks formules moet memoriseer om die kubus tot sy oorspronklike toestand te herstel. Dié lineêre geheue gaan mettertyd ook spiergeheue word.

Die rubik-kubus kan ook fokus ontwikkel, visuele waarneming verbeter en die vaardighede verbeter wat nodig is vir ’n loopbaan in rekenaarwetenskap, ingenieurswese of argitektuur.

Vyf pretfeite oor die kubus

  1. Ernó het die speelding aanvanklik die Magic Cube genoem, maar die Ideal Toy Corporation het dit in 1980 herdoop ná ’n probleem met internasionale patentering.
  2. Dit word wyd beskou as die gewildste speelding ter wêreld. In Januarie 2009 is 350 miljoen kubusse wêreldwyd verkoop; dit is dus die wêreld se topverkopende legkaartspeelding.
  3. ’n Gewone kubus het 21 dele. Dit bestaan uit ’n kern, agt hoeke, 12 rande en 54 plakkers.
  4. Rubik-kubusse so klein soos 2x2x2 dele en so groot soos 5x5x5 is geskep vir dié wat ’n groter uitdaging soek.
  5. Dit was ’n toevallige uitvindsel. Ernó het gewerk aan ’n model wat hom driedimensionele meetkunde sou help verduidelik toe hy die bekende kubus-vorm met verskillende kleure skep. Dit het hom meer as ’n maand gekos om sy eie uitvindsel op te los. In werklikheid was hy nie eens seker daar was ’n manier om dit op te los nie.

  • Die kubus is al in onder ses sekondes opgelos. Die eerste amptelike wêreldrekord vir die oplos van ’n rubik-kubus was 22,95 sekondes deur Minh Thai. Die huidige rekord vir een keer oplos is 5,55 sekondes deur Mats Valk, en 6,54 sekondes vir die gemiddelde van vyf probeerslae. Die rekordhouer is Feliks Zemdegs.

Mense met ’n obsessie met die speelding, word dikwels Cubaholics genoem. Hulle ly ook glo gereeld aan pols- en vingerbeserings.

Die duurste kubus staan as die Masterpiece Cube bekend. Fred Cueller van Diamond Cutters International het dit gemaak om die 15de bestaansjaar van die kubus te herdenk. Dit bestaan uit soliede 18 karaat goud, 22,5 karaat ametis, 34 karaat robyne en 34 karaat smaragde. Dié kubus sal jou meer as R15 miljoen uit die sak jaag!

Lekker speel!

Ter herdenking van die rubik-kubus se 40ste bestaansjaar het Google sy Google Doodle daaraan opgedra. Probeer dit hier aanlyn oplos.

- Janine Nel

Ekstra bronne: yourubik.com, reuters.com, rubiks.com, wikihow.com, mathplayground.com