Jennifer Lopez huil amper elke aand wanneer sy tydens haar konserte in Las Vegas hulde bring aan haar kinders.

Jennifer het aan ETOnline gesê mense vra dikwels of sy huil, waarop sy antwoord dit gebeur amper elke aand.

J-Lo hou vol haar kinders is mal daaroor wanneer hul gesigte tydens die huldeblyk op groot skerms aan weerskante van die verhoog verskyn, maar Max vra glo gewoonlik waarom sy gesig vertoon word. Dan kla hy: “Mense lag vir ons!” Hy bekommer hom daaroor, hoewel dit lyk of dit nie sy sussie pla nie.

Jennifer se konserte by die AXIS-ouditorium in Planet Hollywood het in Januarie 2016 begin en sal tot 17 Desember 2016 voortduur. Dis in vier sarsies verdeel; die derde deel begin op 20 Julie 2016.

Lees ook: Jennifer Lopez het aan haar sangtalent getwyfel

Die ster het haar eie optredes saamgestel, maar onlangs aan die Amerikaanse kletsprogram-aanbieder Jimmy Fallon gesê sy het haar program so volgeprop, sy is ná die tyd behoorlik poegaai.

In Februarie 2016 het sy gesê die optredes is harde werk en sy verstaan nie hoekom sy dit so moeilik gemaak het vir haarself nie; sy was so opgewonde dat sy hopeloos te veel items beplan het.

Ná die eerste optrede het sy besef dis malligheid om so ’n druk program vol te hou. Die sangeres en ma van twee vertolk ook ’n hoofrol in die TV-reeks Shades of Blue, wat onlangs hernu is vir ’n tweede seisoen, en sy behartig stemwerk in die nuwe film Ice Age: Collision Course.

© Cover Media