'n Sjef sonder papiere, noem hy homself. Maar wie soek nou papiere as jy op ’n jeugdige 36 klaar Suid-Afrika se mees geliefde kosster is?

Reuben Riffel is immers reeds die baas van drie Reuben’s-restaurante, en hy het anderdag in New York saam met Amerika se leefstylghoeroe Martha Stewart gaan kook. Martha, mense, Martha.

Een van sy eetplekke is nogal in Sol Kerzner se blink The One and Only-hotel in die Kaapse Waterfront. Reuben het by die wêreldbekende kokGordon Ramsay oorgeneem.

En waar het hy leer kook? Heel eerste was dit by sy ouma Sarah en ma, Sylvia – in sy grootwordplek in Oakstraat op

Franschhoek, waar hy “met die oog gesteel het”.

Ons kuier vandag by dié einste sjef sonder papiere op die wonderskone Franschhoek in die ruim huis wat hy met sy vrou, Maryke (34), en hul meisiekind, Latika (18 maande), deel. Dié jonge juffer het juis pappa se avontuurlustige eetgewoontes geërf.

Vandag is sommer ekstra spesiaal, want ouma Sarah, Sylvia en ’n paar ander familielede het spesiaal kom inloer om Riffel-staaltjies te vertel.

“Ek het hom altyd opgepas toe sy ma destyds moes werk,” vertel Sarah in haar sagte stem.

“Ja,” sê Sylvia met ’n trek van heimwee in die oë. “My skoonpa, Abie, het sy eie vee gehad op ’n stuk grond en daar is alles geplant. Ons het self geslag en groenboontjies, aartappels en ander goed het alles uit die tuin gekom.”

Die twee lag albei kopskuddend. Hul Reuben-kind het gereeld kamer toe verdwyn met ’n homp vars gebakte brood en ’n groot beker koffie. “En dan kon g’n mens hom pla nie,” sê sy ma.

Maar hy was ’n voorbeeldige kind met goeie maniere, voeg Sarah by. “Goed met die skoolwerk ook. Hy het nooit neergeskryf wat ek hom wys nie, net gekyk. Hy kan konfyt maak, sagopoeding . . .”

Is daar iets spesifieks wat hy graag by ouma eet?

“Natuurlik,” sê Sarah, amper verontwaardig. “Soetpampoen, gebraaide hoender, gebraaide aartappels, gebraaide varkboud, makataankonfyt.”

Reuben onthou sy tant Rebecca se kerrievis, pampoenkoekies en Sondae se groot eet.

“Ons was nie ryk nie, maar ons het flippen lekker geëet.” En hy glimlag breed oor die lekker herinnering.

Lees die volledige onderhoud in die Huisgenoot van 14 April 2011.