[caption id="attachment_119988" align="alignnone" width="601"]Die Rhodes-gedenkteken. Foto: Wikipedia Die Rhodes-gedenkteken. Foto: Wikipedia[/caption]

Lt.kol. André Traut het gesê ’n intelligensie-gedrewe operasie het die polisie na ’n skuiling teen die hange van Tafelberg net onder die gedenkteken gelei waar die 35-jarige verdagte in hegtenis geneem is.

Die man word aangekla van ten minste een van die talle verkragtings wat onlangs in die gebied plaasgevind het en kan ook verbind word aan ’n paar ander, het André gesê.

Vir nou word die man net aangekla van die verkragting op 19 November 2015 waartydens ’n 23-jarige vrou aan die onderkant van die gedenkteken aangeval en beroof is.

Die man sal binnekort in die Wynberg-landdroshof op aanklagte van verkragting en roof verskyn.

Sy inhegtenisneming kom net dae nadat die Universiteit van Kaapstad ’n R100 000-beloning aangebied het vir enige inligting wat kan lei tot die aankeer van ’n moontlike reeks-verkragter wat reeds ’n paar persone aangeval het.

Donderdag is ’n UK-student wreed aangeval, aangerand en verkrag naby die gedenkteken terwyl sy gaan draf het.

Die universiteit kon nie dadelik met sekerheid sê die aanval was deur dieselfde persoon gepleeg as die voriges nie, maar daar was duidelike ooreenkomste.

Die 28-jarige student is langs ’n fietspad naby Prinses Anne Drive in Nuweland deur ’n man oorval en gedreig met ’n mes, het die UK se Gerda Kruger gesê.

Hy het haar erg aangerand en gedwing tot in die bosse in die rigting van die Rhodes-gedenkteken.

"Die man het haar vir ’n paar uur gevange gehou en haar verkrag. Hy het haar later gedwing om te loop tot by ’n vulstasie waar sy daarin kon slaag om te ontsnap. Personeel by die vulstasie het haar gehelp om die polisie te ontbied."

Sy is daarna in die hospitaal opgeneem.

Bron: News24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Toekoms van Afrikaans by Maties deur hof beslis

Vir Altyd verskuif grense ná hul meeste geld nog vir Afrikaanse fliek verdien

Motoris se lyk gevind ná hy op pad werk toe in Pretoria-vloede wegspoel

Desiré Gardner omtower in ‘vurige, borrelende blondine’ én deel wonderlike nuus!

Grusame besonderhede oor Tokai-moord kom aan die lig