Fidel Alejandro Castro Ruz, afkomstig uit 'n ryk familie, het Kuba omskep in 'n eenparty-sosialistiese staat; die industrie en besighede is genasionaliseer. Dit was 'n eerste in die Westerse hemisfeer.

Fidel was ook 'n ikoon vir talle en bekend as een van die mees-kontrovêrsiële leiers. Daar was glo talle pogings tot sluipmoord. Hy het telkemale oorleef. Maar op die ouderdom van 90 het hy na 'n lang stryd teen swak gesondheid eindelik bes gegee.
Vir geruime tyd reeds was daar gissinge dat Fidel reeds oorlede is. Die gerugte is telkemale die nek ingeslaan deur óf kortstondige verskynings deur Fidel self of in die algemeen verklarings deur sy broer, Raul. Dit was juis Raul wat aangekondig het: “Die hoof-bevelvoerder van die Kubaanse rewolusie het vanaand 10:29 gesterf."
Die aankondiging van sy dood is aanlyn en in die openbaar deur talle gevier waartydens hy as die "wrede diktator" verdoem is. Veral in Miami, Amerika, waar talle Kubane hulself deesdae bevind, het die nuus met blydskap ontvang.
Volgens The Guardian het Fidel se "bebaarde" gorilla-magte die destydse korrupte Fulgencio Batista se korrupte diktatorskap vervang en die land onder kommunistiese beheer geplaas.
In 1961 het hy 'n inval van Kuba, wat deur die CIA (Sentrale Amerikaanse Intelligensiediens) gerugsteun was, verhoed. Sy verbintenis met Moskou het tot die Kubaanse Missielkrisis in 1962 gelei. Dit was 'n kragmeting met Amerika wat 13 dae sou duur. Dit was die naaste sover bekend wat die wêreld aan 'n volskaalse kernoorlog gekom het.
Fidel sal Saterdag veras word aldus sy broer, Raul, die leier van Kuba.

Suid-Afrika en Kuba

Die twee lande het mekaar die stryd aangesê tydens die Angolese burgeroorlog tot 1988. Suid-Afrika sou UNITA (National Union for the Total Independence of Angola) ondersteun terwyl Kuba die MPLA (People's Movement for the Liberation of Angola) sou ondersteun.

In 1988 het Kuba, Angola en Suid-Afrika die New York-ooreenkoms geteken waartydens ooreengekom is dat Kuba hul troepe uit Angola sou onttrek in ruil daarvoor dat Suid-Afrika onafhanklikheid aan Namibië sou toestaan.

Sedert 1996 het Suid-Afrika en Kuba ook op mediese terrein "vriende" gemaak. Vanaf 1996 tot 2002 is meer as 450 Kubaanse dokters en dosente in Suid-Afrika ontplooi. Sowat 100 Suid-Afrikaners word ook per jaar in Kuba opgelei voordat hul hul mediese studies weer hier sou voltooi. Die sukses van die projek is nie baie duidelik nie.

Vyf goed wat jy van Fidel Castro moet weet

1. In 2012 wys Time-tydskrif Fidel aan as een van die 100 invloedrykste mense van alle tye.

2. Hy hou die rekord vir die langste toespraak ooit gehou in die Verenigde Nasies: Op 26 September 1960 sou sy toespraak 4 uur en 29 minute duur. 3. Fidel beweer hy het 634 pogings tot sluipmoord op hom vrygespring. Een van die pogings sou wees om sy baard te laat uitval en so sy beeld skade te berokken. 4. Fidel is pa van nege kinders by vyf vroue. Sy oudste seun, Fidel Castro Diaz-Balart is 'n Russies-opgeleide kernwetenskaplike. 5. Daardie alomteenwoordige sigaar? Hy het daaraan gekou maar in 1985 opgegee om sigare te rook. Hy sou later glo sê: "Die beste ding wat jy met 'n boks sigare kan doen is om dit vir jou vyand te gee."

Reaksie op Twitter

Bronne: theguardian.com, cnn.com, wikipedia.org, indianexpress.com