francois hougaard

Dis die onderhoud wat elke joernalis al probeer kry het sedert Francois Hougaard se naam geopper is in die nadraai van Reeva Steenkamp se skietdood. Het hy daardie aand vir Reeva ’n SMS gestuur wat Oscar Pistorius laat knak het? Wanneer laas het hulle kontak gehad? Was hy steeds heimlik op haar verlief? Hierdie onbeantwoorde vrae hang al om die rugbyspeler se kop sedert daardie noodlottige voorval in die vroeë ure van 14 Februarie.

Dit is steeds duister hoe die gerug ontstaan het en wie die bron daarvan was. Francois se ysere vasbeslotenheid om oor die saak te swyg, het net die bespiegelinge aangevuur en die wêreld- en plaaslike media het sy naam uitgelig as moontlike oorsaak van die moord.

Ná maande van stilswye het Hougi, soos sy naby vriende en familie hom noem, eindelik ingestem om te praat. Nie om sy naam in ere te herstel nie. Beslis nie om te praat oor sy eens sterk vriendskap met Oscar nie. En beslis nie om oor die hofsaak te praat nie.

Die meeste joernaliste stap vol vertroue by ’n onderhoud in en weet wanneer om te druk en wanneer om terug te hou. Hierdie keer is dit anders. Ek kom gou agter Francois is ’n skaam ou – ondanks sy reputasie dat hy ietwat arrogant voorkom. Sy gesig verklap min, maar hy was duidelik ongemaklik en dit was my werk om hom so ver te kry om my genoeg te vertrou om oop te maak.

Francois Hougaard

Hy praat oor sy nuwe huis, sy onlangse enkelbesering en selfs sy bakvernuf (hy is baie trots op sy suurlemoenskuimtert). As die onderwerp van Oscar en Reeva ter sprake kom, verstyf hy egter. Dis te verstane. Stel jou voor jou naam word in ’n moordsaak genoem. Stel jou voor die media meen jy was straks die motief vir die moord. En, erger nog, stel jou voor mense op sosiale netwerke blameer jou openlik vir iemand se dood.

Dit kan nie maklik wees nie. Wat my die meeste getref het, was die 25-jarige se beheersde houding. Hy sê hy het nog nooit oor die saak gepraat nie, want waarom sou hy? Hy het nie gevoel dis nodig om sy naam in ere te stel nie, want daar was niks om op te klaar nie. Dis regtig so eenvoudig. As ’n joernalis het ek gevoel moeilike vrae moes gevra word (vir meer hieroor, koop Huisgenoot se uitgawe van 3 Oktober). Maar wanneer hy oor Reeva begin gesels, ontspan hy en glimlag hy selfs.

Francois Hougaard Ek is daar weg met baie respek en meegevoel vir hom. Hy is ’n wêreldbekende sportman. Vat die titel, geld en glorie weg en hy is ’n ou wat iemand verloor het wat meer as net ’n platoniese vriendin was. Jy kan nie help om hom jammer te kry nie.n KLIK HIER vir foto's van Francois.

Jessica Levitt

031013HGM001

Lees Jessica se volledige onderhoud met Francois Hougaard in die jongste uitgawe van Huisgenoot (3 Oktober 2013) wat nou te koop is.