Die eerste nuwe foto’s van prinses Charlotte ná haar geboorte en debuut buite die Lindo-vleuel op 2 Mei is uitgereik. En die foto's is sommer deur die Hertogin van Cambridge self geneem.

Kate het die foto's van Charlotte en George glo twee weke gelede in Anmer Hall, die gesin se tuiste op die Sandringham-landgoed in Norfolk, geneem.

Die nuwe prinsessie sal op 5 Julie by die St. Mary Magdalene-kerk op die Sandringham-landgoed gedoop word.

Charlotte Elizabeth Diana sal op dié dag in dieselfde kerkie gedoop word as haar ouma, Diana, prinses van Wallis.

Diana het in Park House op die Sandringham-landgoed grootgeword. Nadat haar pa die graafskap geërf het ná die dood van sy pa, het die Spencers na die Spencer-setel Althorp verhuis.