Binnelanders-kykers sit nou al maande lank vasgenael en wag vir Pippa om eindelik die lewe te skenk.

popbaba

Die baba word toe ná ’n spanningsvolle storielyn, wat kykers laat wonder het of Pippa (Nadia Valvekens) se man nog leef, in ’n hotelkamer gebore.

Maar o wee!

Talle kykers is ontstig toe hulle sien die pasgebore baba is ’n pop.

“Kry tog ’n regte baba,” het Nicolette van Wyk vroeër vandeesweek kommentaar gelewer op Binnelanders se Facebook-blad. Baie ander kykers het haar sentiment oor die “pop” gedeel.

Ander meen die baba lyk soos ’n rekenaargegenereerde baba.

Tog is daar kykers wat glad nie gepla is of die nuwe baba ’n regte baba of ’n pop is nie. “Ag, ek is mal oor die sepie . . . dit is baie goed . . . ek is bly vir haar,” het Corrie Coetzer geskryf.

Dit is nie die eerste keer dat kykers kla oor poppe wat as regte babas voorgehou word nie.

In 2015 het mense behoorlik mond uitgespoel en gespot toe ’n pop in die Oscar-benoemde fliek American Sniper gebruik is, het Independent destyds berig.

Die akteur Bradley Cooper moes die pop in ’n spesifieke toneel vashou en later in ’n bababedjie sit.

’n Artikel van Hollywoodreporter.com het egter later verduidelik dat wetgewing in Kalifornië, Amerika, streng is oor die gebruik van klein babas in flieks.

Die babas moet glo ten minste 15 dae oud wees en kan slegs twee uur op stel wees. Hulle mag ook net tussen halftien en halftwaalf of tussen halfdrie en halfvyf afgeneem word. Daar moet ’n verpleegster en ’n ateljee-afrigter op stel wees ten tyde van die verfilming.

In Suid-Afrika is ook streng maatreëls wanneer pasgebore babas verfilm word.

Natasha Brickman, van die agentskap Kids on Camera in Johannesburg, sê babas mag net twee uur op ’n slag op ’n plaaslike televisie- of rolprentstel wees. “Hulle het baie rus nodig en hul bottels melk moet naby wees.”

Wanneer die kamerawerk gedoen word, moet daar nog ’n baba wees wat op “bystand” is ingeval dit moeilik is om met die eerste baba te werk.

Sy sê agentskappe wat met kinders en babas werk, moet ’n permit hê wat uitgereik word as die arbeidsdepartement tevrede is met die toestande waaronder die baba verfilm word.

Binnelanders het nie kommentaar gelewer op Huisgenoot se navrae oor die pop nie.