Die polisie wil George Michael ondervra oor die motorongeluk waarin hy verlede week was.

Die 49-jarige sanger word nog in die hospitaal behandel nadat hy verlede Donderdag (16 Mei) op die besige M1-snelweg uit die passasierskant van ’n Range Rover geval het. Die ondersoekende beamptes wil vasstel wat gebeur het. Hulle het al met die bestuurder gesels.

’n Polisiewoordvoerder sê: “Ons het beslis nog nie met die 49-jarige man gepraat nie.”

Polisiebronne het aan Daily Mirror gesê die ongeluk is nog nie naastenby verklaar nie en motorkenners sê dit sou “baie moeilik” gewees het om uit ’n motor te val wat teen sowat 112 km/h beweeg het.

Colin Goodwin, ’n rubriekskrywer vir Autocar Magazine, het gesê: “Dit het ’n groot sy-impakstaaf wat deur die middel loop en elektroniese motors en toerusting vir die vensters en sluitstelsel, wat beteken dit verg ware inspanning om dit oop te maak.”

George word ná die ongeluk as voorkomende maatreël steeds in die hospitaal gehou.

Sy woordvoerder sê: “Ons kan bevestig hy is nou nog ná Donderdag se motorongeluk in die hospitaal. Ons wil graag beklemtoon dis bloot as ’n voorkomende maatreël vir waarneming.

“Hy het ’n paar knoppe en kneusplekke aan sy kop opgedoen en dis hoekom hulle hom daar hou; om ’n ogie oor hom te hou. Hy vaar beter. Hy vorder goed en sien daarna uit om ontslaan te word.”