Dit is nie net gewone mense wat sukkel om van die knaende rookgewoonte ontslae te raak nie. Oor die jare was daar verskeie koninklikes wat maar te graag ’n dampie geslaan het. Maar dit gaan van nou af al hoe moeiliker wees om dié gewoonte te geniet, aangesien Buckingham Paleis ’n verbod geplaas het op rokery in alle koninklike huise. Dit sluit Kensington Paleis in waar Prins Harry woon wat al van jongs af rook.

Vir die laaste dekade is koninklikes toegelaat om in afgebakende areas in koninklike wonings te rook, maar die reuk het nie-rokers glo so begin pla dat daar besluit is om ’n stokkie hiervoor te steek.

E-sigarette sal tot en met 21 Mei 2017 toegelaat word, maar daarna sal die rokers maar buite die perseel moet gaan rook.

Dit het onlangs in die televisiereeks The Crown aan die lig gekom dat Koningin Elizabeth se pa, Koning George VI, ’n groot roker was wat aan longkanker gely het. Hy is in sy slaap dood nadat ’n bloedklont deur sy hart is.

Dit was alombekend dat die koningin rook verpes het en haar man, Prins Philip, het op hul troudag besluit om die gewoonte te laat staan.

Bronne: Dailymail.co.uk en Mirror.co.uk