Wanneer mense vir ’n aand se gesellige kuier nader skuif aan die braaivleisvuur, is dit gewoonlik die tyd dat die stories begin loop. En natuurlik sal iemand ook kort voor lank ’n spookstorie of twee te vertelle hê.

Ons storiekas is immers propvol spookverhale en ander legendes wat op Suid-Afrikaanse bodem afspeel en van geslag tot geslag oorvertel word.

Jaco Hough-Coetzee het in dié kas gaan krap op soek na van die bekendste spookverskynsels in die land.

Die wreedaardige gifmoordenares (Johannesburg en Pretoria)

Daisy de Melker was ’n kort, mollige en vrek lelike vrou met ’n gesplete verhemelte.

[caption id="attachment_151815" align="aligncenter" width="600"]Daisy Louisa C. De Melker, beter bekend as Daisy de Melker, was 'n opgeleide verpleegster. Foto: gauteng.net Daisy Louisa C. De Melker, beter bekend as Daisy de Melker, was 'n opgeleide verpleegster. Foto: gauteng.net[/caption]

Boonop het sy ook die vreemde gewoonte gehad om al die mans in haar lewe te vergif – uit pure selfsug. Uit die lewenspolisse en erfporsies van haar eerste twee mans, asook haar volwasse seun, wat die een ná die ander pynlik aan haar hand gesterf het, kon sy ’n heel gemaklike lewe lei.

Ongelukkig vir De Melker het die apteker by wie sy die gif gekoop het hond se gedagte gekry. Hy deel toe sy agterdog met die polisie, wat die drie lyke vir ’n ondersoek laat opgrawe.

Die apteker was reg: Hul liggame was deurtrek met arseen.

Op Vrydag 30 Desember 1932 is De Melker in die Ou Tronk in Pretoria gehang, maar dit was nie die laaste sien van die gifmoordenares nie.

So haatdraend soos sy altyd was, en miskien steeds is, spook sy tot vandag nog in feitlik elke plek waar sy gewoon, gewerk en as gevangene aangehou is en ook waar sy gesterf het.

'n Televisiereeks, waarin Susan Coetzer die rol van Daisy vertolk, is in 1993 op die destydse SAUK uitgesaai.

Kon maj. Mathilde Small, wat in 1992 in die Polisiemuseum in Pretoria gewerk het, een van die talle mense wees wat deur De Melker se gees getreiter is?

In Junie daardie jaar was Mathilde een middag ná toemaaktyd alleen in die gebou.

Skielik het haar interkom gegons asof iemand met haar wil praat, maar daar was niemand aan die ander kant nie. Sy sien toe die “boodskap” kom van die interkomstasie op die eerste vloer en stel ondersoek in, maar daar was niemand in sig nie.

So het vir omtrent twee weke elke middag gebeur, presies om 16:40. ’n Tegnikus het na die stelsel kom kyk, maar kon geen fout vind nie.

Toe Mathilde tydens een reënerige Vrydagmiddag gereedmaak om huis toe te gaan, gebeur dit weer. Sy het haar bloedig vererg en skree: “Daisy, kom nou tot rus en gaan slaap!”

Sy vertel sy weet nie eintlik hoekom sy De Melker se naam geroep het nie; “dit het sommer net op die ingewing van die oomblik gebeur”.

Maar “iemand aan die ander kant” was net so vererg: Die interkomgonser het skielik sonder ophou aan- en afgegaan, aan en af. Toe, net so skielik, stop dit.

Die gebou wat die Polisiemuseum huisves, was in die 1930’s die polisiehoofkantoor. En ja, dit is in dié einste gebou waar De Melker destyds as verhoorafwagtende ondervra en aangehou is.

polisiemuseum

Dan is daar ook baie vertellings van wagte wat haar soms opmerk in Hof 3 van die Johannesburgse hooggeregshof, waar sy in 1932 verhoor is.

Sy wil ook nie finaal afskeid neem van haar huis in Clubstraat in Turffontein, Johannesburg, nie.

Dit staan nog, en staaltjies van ’n figuur wat saans deur die venster uitloer terwyl niemand tuis is nie, is volop in die buurt.

Duidelik het De Melker haar nie veel gesteur aan Mathilde se opdrag om “tot rus te kom” nie.

Die Vlieënde Hollander seil steeds (Kaapstad)

Nog een van Suid-Afrika se legendariese spookverhale het in die 17de eeu tydens ’n stormagtige nag naby Tafelbaai ontstaan.

[caption id="attachment_151839" align="aligncenter" width="600"]Charles Temple Dix (1838-1873) het dié skildery iewers in die 1860s geskilder. Foto: wikimedia.org Charles Temple Dix (1838-1873) het dié skildery iewers in die
1860s geskilder. Foto: wikimedia.org[/caption]

Die ongenaakbare Nederlandse skeepskaptein Hendrick van der Decken wou in dié tyd met alle geweld met sy seilskip om Kaappunt vaar, al het sy bemanning smekend volgehou die weersomstandighede is te gevaarlik.

Die klein houtskip het hulpeloos rondgedobber en heen en weer gekantel namate die storm vererger het.

Met ’n drankbottel in die hand het ’n aggressiewe Van der Decken die matrose swetsend beveel om nog ’n seil te hys terwyl hy die stuur by die bootsman oorneem. Die bootsman het teëgestribbel, maar Van der Decken het hom met een veeg oorboord geeslaan.

Van der Decken het niks gevrees nie – nie dié storm nie, en ook nie die duiwel of selfs God nie. Die skip het krakerig voortgebeur.

Die kaptein het nog ’n sluk uit sy bottel gevat en vreesloos na Bo gebulder: “Ek sweer ek sal om die verdomde Kaappunt seil, al neem dit my ook tot die oordeelsdag!”

Sekondes later was die hemelruim spookagtig verlig en het ’n harde bliksemstraal die skip getref. Dit het in twee gebreek en stadig in die donker water weggesak. Net ’n paar matrose kon die strand met ’n reddingsbootjie bereik om die verhaal te vertel.

Blykbaar word Van der Decken aan sy eed gehou, want vir dekades daarna is die spookagtige verskynsel van Die Vlieënde Hollander tydens stormweer gereeld opgemerk waar hy nog “tot die oordeelsdag toe” probeer om om Kaappunt te vaar.

Gedurende die laat 1800’s en vroeë 1900’s is in talle skeepsjoernale voorvalle opgeteken van hoe beangste matrose tydens ’n stormagtige nag aan Kaappunt gesien het hoe ’n onbekende boot op hulle afpyl.

Die boot het volgens oorlewering ’n paar meter bo die onstuimige golwe by hulle verbygeskiet.

Op die dek, agter die stuur, het ’n swart figuur gestaan wat die vaartuig met swaaiende arms deur die storm probeer stuur. Dan het die beeld net so onverwags in die niet verdwyn.

Meer as net teatergangers besoek die staatsteater (Pretoria)

Geeste en spoke het die gewoonte om nie net agter die gordyne en onder die verhoë van teaters wêreldwyd te dwaal nie; hulle verskyn ook in aantrekkamers, voorportale en restaurante in teatergeboue.

staatsteater

Dit is dan ook die geval van die Pretoriase Staatsteater, wat in 1981 geopen is met die Allegro-restaurant op die grondvloer.

Sommige van die restaurantpersoneel, veral dié wat van Atteridgeville kom en nie hul eie vervoer het nie, moes dikwels saans in die restaurant oornag wanneer opvoerings te laat geëindig en daar nie meer openbare vervoer beskikbaar was nie. Hulle was huiwerig om dit te doen, maar had geen keuse nie . . .

Die een ná die ander sou hulle op hul matrasse aan die slaap raak, net om dikwels in die vroeë oggendure wakker te skrik weens harde voetstappe wat stadig oor die marmervloere aankom. Deur die restaurant. In by die kombuis. Dan volg die klapgeluide van kasdeure wat wild oop- en toegemaak word.

Soms sou iemand waaghalsig genoeg wees om te gaan kyk wie in die kombuis doenig is, maar dan was daar niemand.

Wanneer dié ritueel hom afgespeel het, het die meeste egter hulle beddegoed vinnig weggebêre en buite op die sypaadjie vir die eerste taxi’s gaan wag.

Die publiek het blykbaar ook nie te veel van die Allegro-restaurant se atmosfeer gehou nie, en sy deure is later in 1996 gesluit. Die voetstappe deur die teatervoorportaal en die restaurant het onverwags opgehou.

Maar waar kon dié verskynsel vandaan kom?

Toe die Staatsteater gebou is, het ’n konstruksiewerker in die nat sement van die fondasie geval. Hy het versmoor voor iemand hom kon red. Die Allegro is gebou op die plek waar hy gesterf het. Kan dit hy wees wat daarna steeds deur die restaurant gestap het?

Alles is nie pluis by dié kasteel nie (Kaapstad)

Tien jaar nadat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 in Tafelbaai voet aan wal gesit en die eerste verversingspos vir verbygaande skepe aan Kaappunt geskep het, was sy opvolger, kdr. Zacharias Wagenaer, verantwoordelik vir die bou van die imposante Kasteel de Goede Hoop, wat vandag ’n gewilde toeristebestemming is.

[caption id="attachment_151842" align="aligncenter" width="600"]Foto: wikimedia.org Foto: wikimedia.org[/caption]

Maar dit is nie net toeriste wat hier ronddwaal nie . . .

Wagte wat snags by die kasteel aan diens is, vertel hulle hoor gereeld voetstappe, stemme en selfs bloedstollende gille. Dan is daar ook die vreemde figure wat gereeld hul verskyning maak.

Die eerste gerapporteerde voorval dateer terug na 1915, toe ’n 2 m lange figuur gesien is wat op die buitemure van die kasteel rondloop.

In 1947 is hy oor ’n tydperk van weke weer gesien waar hy sy wandeling op die muur voortsit en kort-kort stop om oor die muur te loer. Dit is die tipiese gedragspatroon van ’n soldaat op patrollie. Vreemde voetstappe is selfs gereelder in dieselfde gebied gehoor.

’n Wag het hom 200 jaar gelede in die kloktoring opgehang – kan dit hy wees wat dié klok steeds met ongereëlde tussenposes laat lui?

Destyds het baie veroordeeldes weens marteling of uitputting omgekom in die aanhoudingsel. Dit staan bekend as “Die Donker Gat” omdat daar nooit daglig inskyn nie.

Vandag vertel wagte ’n onheilspellende geskree kom soms uit die sel. Sommiges weier ook om in die vroeë oggendure die roete verby die sel te volg, “want dit voel of ’n bose mag jou wil insuig”.

En wat van die groot swart hond wat saans uit die niet verskyn, vir die wagte knor terwyl hy dreigend nader kom en dan skielik verdwyn?

In die Buuren-bastion word ligte saans aan- en afgeskakel sonder dat enige mense betrokke is.

En in die omgewing van die wagtekamer word die stemme van ’n man en vrou gehoor wat stry.

In die einste wagtekamer is ’n elektriese klokkie wat soms onverklaarbaar afgaan. Dit word toegeskryf aan ’n wag wat in die vroeë 1900’s daar sy lewe geneem het.

Die gestalte van goew. Pieter Gysbert van Noodt word weer dikwels opgemerk waar hy in sy kantoor vloekend heen en weer loop. Hy was bekend vir sy barbaarse behandeling van soldate wat tot drostery gelei het.

Op 23 April 1729 het hy weer sewe soldate die doodstraf opgelê. Een van hulle het in ’n vloek uitgeroep die goewerneur sal saam met hulle “voor God se geoordeel word”.

Kort nadat die doodstraf uitgevoer is, is Van Noodt dood in sy stoel aangetref. Hy is blykbaar aan ’n hartaanval dood, maar op sy gesig was ’n benoude uitdrukking van vrees.

Lady Anne Barnard, vrou van die koloniale sekretaris Andrew Barnard, het tussen 1797 en 1802 in die kasteel gewoon. Sy het gereeld elegante onthale aangebied.

Blykbaar kon sy nie van die sosiale leefstyl afstand doen nie, want haar deurskynende figuur – kompleet met haar kenmerkende krulhare en geklee in ’n tipiese balrok van daardie tyd – word gereeld gesien waar sy by belangrike funksies opdaag.

Talle mense het oor die eeue heen in die kasteel gewoon en gewerk, waarvan sommiges heel duidelik vergeet het om te vertrek . . .

Moenie ’n spook tart nie (Schubartpark, Pretoria)

’n Spook kan hom bitsig vererg, veral as hy uitgelok word. Dit is die seer les wat ’n motorwerktuigkundige van Pretoria in 1994 geleer het.

Rudolf Steyn het destyds ’n woonstel met sy suster gedeel. Hulle het in die Schubartpark-woonstelkompleks in die middestad van Pretoria gewoon.

Dié gebou is vandag erg verwaarloos en verniel, maar jare gelede het hoofsaaklik jong mense daar gewoon en toe het dit gebruis van lewe en opwinding.

Een aand in 1994 het Rudolf in die bad gesit. Hy was geïrriteerd, want die badkamerlig het weer onverklaarbaar aan- en afgegaan. Hy het ook onthou sy suster het hom al skrikkerig vertel van die vreemde figuur wat sy soms in hul kombuis sien staan.

Dis alles jou verbeelding, het hy haar stories afgemaak. Maar vir die badkamerlig kon hy nie ’n verduideliking kry nie.

Net toe Rudolf die skeermes na sy gesig bring, gaan die lig weer af. Hy het hom vererg en kliphard geskree: “Spokie, spokie, aan die rand, wys my jou gesiggie in die land!”

Sy woorde was skaars koud, toe voel hy ’n harde klap teen sy skouer, gevolg deur ’n brandgevoel.

Die volgende dag was daar ’n bloedrooi, opgeswelde merk op sy rug – net mooi op die plek waar hy die klap gevoel het. En in die vorm van die hand van ’n groot volwasse man.

Inwoners van die kompleks het later aan ’n Pretoria News-verslaggewer vertel ’n vorige huurder het in daardie einste badkamer aan ’n hartaanval gesterf. Die man was glo kort van draad en het vinnig die vuiste ingelê wanneer hy gekonfronteer is. Sy gees was blykbaar nie veel anders nie.

Die spookmeisie van Uniondale (Klein-Karoo)

Sy is sekerlik die bekendste bonatuurlike verskynsel in Suid-Afrika. Maria Roux, die spookmeisie wat Paasnaweke buite Uniondale in die Klein-Karoo staan en duimgooi, se verhaal is in omtrent elke plaaslike spookboek opgeteken.

Suid-Afrikaanse tydskrifte en koerante het oor haar geskryf, terwyl oorsese TV- en rolprentspanne haar storie met hul kameras gevolg het.

Dit het alles begin op ’n triestige, koue aand in die Klein-Karoo. Paasnaweek, 1968.

Op die donker N9-roete, sowat 20 km van Uniondale, het lt. Giel Pretorius gesukkel om sy Volkswagen Kewer in die nat pad te hou.

Op die agtersitplek het sy verloofde, Maria Roux, gelê en slaap. Sy het ’n donkergroen broek en dik jas aangehad om haar warm te hou. Die verliefde paartjie was op pad na Riversdal om vir haar ouers te gaan kuier – ’n bestemming wat hulle nooit sou bereik nie.

Giel het behoorlik aan die Kewer se stuurwiel geklou, want die stormwinde en windvlae het die motortjie hewig heen en weer geskud.

Toe, om ’n skerp draai, ruk die wind hulle weer. Giel het remme aangeslaan, maar beheer verloor en die Kewer het die pad verlaat. Maria is uit die rollende motor geslinger.

Sers. Pat McDonald van die Uniondale-polisiestasie was die eerste op die grusame ongelukstoneel. Hy het Giel bewusteloos agter die stuurwiel aangetref en Maria se lyk ’n entjie verder weg in ’n sloot. Sy is op slag dood – dalk so vinnig dat sy moontlik nie eens besef het sy sterf nie.

Dié tragiese ongeluk op die Uniondale-pad het gelei tot een van die vreemdste bonatuurlike verskynsels in Suid-Afrika.

Liedjieboer Anton Goosen het hierdie liedjie aan die meisie neergepen.

Talle mense het die spookmeisie daarna naby die ongelukstoneel langs die pad gesien staan. Sommige het haar selfs opgelaai.

Hul ondervinding is bevestig deur die polisie van die Uniondale-polisiestasie, waar verskrikte motoriste gaan hulp soek het nadat hulle besef het hul pad het met dié van ’n spook gekruis.

In 2014 is daar 'n rolprent vervaardig met die Spookmeisie as tema.

Almal vertel dieselfde onverklaarbare storie: Hulle het net buite Uniondale ’n swygsame duimgooier in ’n donkergroen broek en dik jas opgelaai.

Sommige het duidelik gehoor hoe die motordeur oop- en toegaan toe sy inklim; ander het haar skril hoor gil. Maar dan het sy skielik verdwyn.

Laaste waagtoertjie van ’n befaamde ruiter (Tokai, Kaapstad)

Vir natuurliefhebbers wat rustig deur die Tokai-bos in Kaapstad wandel, is die pragtige Tokai-herehuis op die landgoed ’n bekende gesig.

[caption id="attachment_151843" align="aligncenter" width="600"]Foto: wikimedia.org Foto: wikimedia.org[/caption]

Dis in 1796 gebou en word vandag deur die Tafelberg Nasionale Park as kantoor gebruik, maar een van die bekendste spookverhale in Kaapstad het juis sy oorsprong in hierdie einste huis, wat in die vroeë 1800’s deur die skatryk Eksteens bewoon is.

Petrus Eksteen was nie net bekend as ’n wynboer van formaat nie; mense het ook geweet van die luidrugtige partytjies wat hy in die herehuis gehou het. Vanselfsprekend was daar geen tekort aan die wyn wat aan die gaste bedien is nie.

Ná ’n glasie of drie het Petrus se seun, Frederick, gewoonlik van selfvertroue oorgeloop en kon hy nie genoeg spog oor sy vermoëns as perderuiter nie. Op daardie tragiese Nuwejaarsaand in die vroeë 1800’s was dit dieselfde storie.

Dit was reeds laat in die aand toe ’n aangeklamde Frederick uitgedaag word om te wys wat in hom steek deur met sy perd by die steil stoeptrappies tot onder die veranda te jaag.

Frederick het nie op hom laat wag nie, en kort voor lank het hy sy perd opgestuur met die trappies – tot op die stoep, waarna hy die onthaalkamer binnegejaag het.

’n Uitbundige Frederick het om die tafel gery, nog ’n bottel wyn gegryp en vinnig ’n paar slukke geneem. Die jillende gaste het hande geklap, maar toe raak die perd verbouereerd.

Met Frederick steeds op sy rug, het die dier vervaard uit die eetsaal gevlug en vir die trap gemik. Sy pote het egter gegly en perd en ruiter het van die hoë stoep na benede getuimel. Met die valslag het albei hul nek gebreek.

Frederick probeer glo egter tot vandag toe nog om sy domastrante toertjie suksesvol uit te voer.

Volgens oorlewering word dikwels snags gehoor hoe perdehoewe om die huis opklink en dan op die trap afpyl. Van die plantasiewerkers beweer selfs van hulle het al die vreemde verskynsel gesien. Die ruiter dra klere uit ’n era van lank gelede, word vertel.