[caption id="attachment_129936" align="alignnone" width="600"]Foto: Solarin/Sirin Labs Foto: Solarin[/caption]

Wel, Sirin Labs reken hul superslim Solarin is elke sent werd. Dis immers volgens hulle volkome bestand teen kuberaanvalle en spioenasie en dus die veiligste foon ter wêreld.

Dis nou benewens hope ander gevorderde tegnologie, soos ’n verwerker en dataspoedvermoë wat skrik vir niks en een van die beste kameras wat nog by ’n foon ingebou is.

Die supersterre Leonardo DiCaprio en Tom Hardy, wat ’n paar weke gelede by die Solarin se bekendstelling in Londen was, was blykbaar veral beïndruk deur hoe dit BBP’s se oproepe, kitsboodskappe en data teen kuberkrakers en kommunikasiekaping van enige aard kan beskerm.

Tom het sy hart uitgestort oor hoe ver krakers sou gaan om sy slimfoonkommunikasie te monitor of te onderskep. Die Britse akteur kry glo heeltyd ’n nuwe foon en nommer om sy privaatheid te beskerm. Op sy beurt het Leo glo al in een van Sirin Labs se vorige ondernemings belê . . .

SOLARIN-Security-Switch

Militêrevlak-kodering

Sirin Labs het blykbaar twee jaar en sowat R1,04 biljoen afgestaan aan die ontwikkeling van “die wêreld se eerste waarlike slimfoon”.

Hoewel party waarnemers meen die Solarin, wat in Swede en Tel Aviv ontwerp is, is meer bek as binnegoed en dat skatrykes grootliks vir pretensie sal betaal, sal Sirin se aansprake en heelparty van die foon se spesifikasies enigiemand beïndruk.

“Dis gemik op internasionale sakelui wat baie sensitiewe inligting op hul foon het, maar nie gebruikersvriendelikheid, gehalte en ontwerp wil inboet nie. Solarin kombineer gevorderde tegnologieë in wat ons as die beste foon ter wêreld beskou,” sê Sirin Labs.

SOLARIN-Upright-Front-with-UI

Hulle sê die foon, wat meer as 2 500 komponente het, kan die mees gevorderde kuberaanvalle op slimtoestelle, netwerke en apps weerstaan. Dit benut dieselfde koderingstegnologie as wat militêre organisasies gebruik om hul kommunikasie te beskerm.

Al die foon se veiligheidsfunksies is boonop in ’n eenvoudige veiligheidskakel agterop geïntegreer. Jy druk net die knoppie om na die verskansingsmodus oor te skakel vir byvoorbeeld oproep- en kitsboodskap-enkodering. Ja, nogal baie soos in 'n 007-fliek.

Daarby het die Solarin onder meer 4 GB RAM, ’n vaste geheue van 128 GB, spesiale Wi-Fi-vermoë wat data-oordrag van ’n verbysterende 4,6 Gbps moontlik maak en 23,8 megapieksel-kamera. En die weelderige afwerking is die werk van die wêreldberoemde ontwerper Karim Rashid, ook bekend vir luukse horlosies.

SOLARIN-Duo-with-Forcefield

Maar jy sal beslis bewus wees van dié meneer in jou sak, sê kritici; met al daai ingeboude tegnologie weeg dit omtrent 250 g, omtrent twee keer soveel soos ’n iPhone 6.

Bronne: sirinlabs.com, telegraph.co.za, theverge.com, forbes.com