Volgens Time.com was Stephanie Smith skoon oorbluf toe sy Junie verlede jaar vir haar kêrel van die afgelope twee jaar, Eric Schulte, ’n toebroodjie maak en hy skerts: “Bokkie, dis heerlik! As jy nog 300 maak, gee ek jou sowaar ’n verloofring!”

Hoewel die paartjie toe nog net ’n jaar saam was en Stephanie nie juis graag’n verloofring wou gehad het nie, staan sy nie aldag terug vir ’n uitdaging nie en het besluit om net daar aan die werk te spring.

“Ek sal aan hom en die res van die wêreld bewys ek kan 300 toebroodjies maak,” het sy gesê.

Sedertdien het Stephanie al 177 toebroodjies aanmekaargeslaan. Elke week poog sy om drie toebroodjies, elkeen met ’n nuwe vulsel, te maak, en publiseer dan foto’s en resepte daarvan op haar blog, 300sandwiches.com.

Hoewel kritici meen die idee is seksisties en dat Eric ’n groot boef is, het Stephanie teruggekap en gesê hy is eintlik die sjef in die verhouding en bring meer tyd in die kombuis deur as sy. Hy skroom ook glo om nie hul woonstel in Brooklyn, New York, aan die kant te maak of haar te help met die bereiding van die toebroodjies nie.

“Wanneer ek die 300ste toebroodjie bereik, sal ek ’n arsenaal maaltye hê wat ek vir aandete, partytjies, pieknieks, ontbyt en nagereg kan voorsit,” skryf sy op haar blog.

“Ons sal mekaar so beter leer ken – en hopelik sal my kêrel sy belofte nakom. Selfs al kom hy dit nie na nie, sal die reis darem smaakvol wees.”

– Christiaan Boonzaier