Maar vir Andy (51) en Sharon Price (52) het sake nie volgens plan verloop toe hulle die toneel probeer naboots nie. 

Die egpaar het mekaar trouens so ernstig beseer dat hulle in ’n ambulans na die hospitaal gehaas is. 

Die verliefdes het die danspassie in die Cabot Court-hotel in Weston Super Mare, Engeland, geoefen vir hul naderende bruilof. Hulle wou hul trougaste met ’n indrukwekkende opligbeweging beïndruk. 

Die twee is groot aanhangers van die rolprent van die 1980’s en het dit al meer as 30 keer gekyk. Dus is dit geen wonder dat hulle die romantiese oomblik op hul spesiale dag wou herskep nie.

Maar anders as Jennifer Grey en Patrick Swayze het hulle nie die opligbeweging onder die knie gekry nie. Pleks van grasieus in haar geliefde se arms omhoog gehou word, het Sharon winduit op die grond beland en Andy is katswink geslaan. 

Hul familie het eers gedink die twee maak ’n grap, maar later die ambulans gebel toe hulle sien hoe ernstig die verloofdes beseer is. 

“Ons familie het gedink ons skeer net die gek,” sê Sharon, “maar hulle het gou besef ons het ons regtig seergemaak.”

’n Woordvoerder van die ambulansdiens het aan Metro News bevestig ’n man en vrou is met kop- en rugbeserings na die Southmead-hospitaal gebring. 

“’n Mens kan maar sê dit het nie volgens plan verloop nie,” sê Sharon. “Toe ek na Andy hardloop, het hy my probeer oplig, maar ons het net gebots.”

Hopelik het die dansmal verloofdes toe ’n stemmiger wals of iets veiligers vir hul troudag gekies.

Bronne: Independant.co.ukthetimes.co.uk