Dis nou iets wat ’n mens nie aldag sien nie: drie geslagte vroue in een familie wat almal op dieselfde dag verjaar!

Maar dis die geval met die 24-jarige Dianita Schlebusch, haar ma, Anita Schlebusch (42), en ouma Mara Cronje (67), wat almal hul geboortedag op 28 Februarie vier.

Mara, van Stilfontein in Noordwes, vertel sy het glad nie die swangerskap met haar oudste dogter beplan nie. Anita is normaal gebore op 28 Februarie 1976.

[caption id="attachment_161274" align="alignnone" width="600"]Dianita, Anita en Mara by Dianita se 21ste verjaardag. Hulle almal verjaar op dieselfde dag. Dianita, Anita en Mara by Dianita se 21ste verjaardag. Hulle almal verjaar op dieselfde dag.[/caption]

Agtien jaar later het Mara op presies dieselfde dag ’n kleindogter ryker geword. “Ouma was in die sewende hemel toe sy uitvind haar kleindogter is op dieselfde dag gebore,” vertel Dianita, wat in Bloemfontein woon, aan Huisgenoot.

“My ma kon nie met my natuurlik die lewe skenk nie en het die dokter toe gevra of dit moontlik is om die bevalling vir 28 Februarie te reël,” vertel sy. Die dokter het ingestem en siedaar, al drie geslagte verjaar op een dag!

Sedertdien is dié drie vroue onafskeidbaar en kuier hulle gereeld saam, veral op hul verjaardag.

Hul geboortedag is egter nie al wat dié ma, dogter en kleindogter gemeen het nie. Dianita vertel al drie het ook ’n kunstige sy.

“Ons persoonlikhede is ook baie dieselfde. Ek en my ouma is mal daaroor om te bak, in die kombuis besig te wees en om ons eie klere te maak.”

Met die jare het die drie nog net twee verjaardae nie saam kon deurbring nie. “Ons prober altyd ’n plan maak om saam te wees, maar soms kan dit ’n mens se sak ruk,” sê die jongste van die drie.

[caption id="attachment_161276" align="alignnone" width="600"]Dianita, Anita en Mara met Mara se man, Corrie Cronje, en Anita se seun, Henrico Schlebusch. Dianita, Anita en Mara met Mara se man, Corrie Cronje, en Anita se seun, Henrico Schlebusch.[/caption]

En dit is seker ook nie maklik vir die ander lede van die familie nie, want nou moet daar elke jaar drie geskenke op ’n slag gekoop word. En almal weet in Februarie gaan dit mos maar broekskeur.

“Ek is nie veel gepla oor geskenke nie, al is ek altyd mal daaroor om een te ontvang!” vertel Dianita en lag.

“Tog is die grootste geskenk elke jaar net die feit dat ons op daardie dag saam kan wees.”