Die groep met die unieke naam ekhouvanjou,okay! is terug met 'n splinternuwe enkelsnit "Moeilikheid", hul eerste sedert 2013.

[post-slider]

Die vierstuk van Potchefstroom het vroeër vanjaar besluit om weer die mikrofone op te tel en die land aan die dans te kry. Die groep bestaan uit Roux Cloete (25), Arno de Beer (24), Louis Janse van Rensburg (28) en Ruan Kruger (30). Hulle het in April 2010 saam begin musiekmaak.

Ons het bietjie vir Louis gaan pols om ons meer te vertel van die nuwe enkelsnit en waarmee die groep in die tussen-tyd besig was.

Waarmee was julle so besig sedert ons 2013 laas musiek van julle gehoor het?

Drie van ons is sedertdien getroud, twee het al kinders en net een van ons is nog enkellopend ;) Basies het ons groot geword; werk gekry, maar ons sal nooit ophou droom oor 'n herlewing nie.

Wat het julle laat besluit om nou weer die mikrofone op te tel?

Roux was nie sedert 2011 in die groep nie, maar hy was die heeltyd gereed om weer musiek te maak. Hy het ons almal toe oorreed om weer te begin! So dis eintlik alles te danke aan hom.

Waar kom die inspirasie vir Moeilikheid vandaan?

Dis geskryf deur die liedjieboere Vaughan Gardiner en Hugo Ludik (van Adam-faam) saam met Roux. Die eintlike doel met die liedjie is om 'n relevante boodskap te bied aan enige jongmens wat nog ooit gevoel het hy of sy kan dalk moeilikheid vir iemand van die teenoorgestelde geslag veroorsaak. Ek bedoel, ons ouens was seker ook moeilikheid vir die skoner geslag 'n paar jaar gelede, maar nou is die bordjies verhang en is ons bang vir ons vroue!

Vertel bietjie meer van die musiekvideo.

Roux is baie skerp met sulke goed vorendag kom en het gedink die Trompie-konsep pas baie goed by die moeilikheid-idee. Dis gedeeltelik geskiet in Potchefstroom en ook op 'n plaas net buite Fochville in Gaunteng.

Vertel nou eers: wat is die storie agter julle groep se unieke naam?

Daar is eintlik nie 'n storie nie! Toe ons in 2010 begin het, wou ons graag iets gehad het wat mense sou onthou. Roux en Arno het eendag in rond gery en idees rondgegooi van woorde wat hulle vir 'n meisie sou wou sê. En die res is, soos hulle sê: geskiedenis...

Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo vir Moeilikheid: