SY HARE is yl, die stoppelbaard grys teen die lig. Die hande wat in ’n krat vol ou enjinonderdele rondkrap, is vol ghries.

Hy soek ’n suier vir hierdie Model T Ford, verduidelik Eddie Joubert (80).

Sy vriend John Nel (80) se snor bewe in die oggendluggie, sy voorkop op ’n plooi getrek.

“Ja, en ék na vier wiele!” laat hoor hy oor sy skouer terwyl hy na die geroeste wrak voor hom staar.

Eddie stoot die krat terug onder die rak in. “Niks!” sê hy. John vryf oor sy bles. “Wel, dan máák ons ’n piston !” Hy is selfversekerd.

Ook nie sonder rede nie. Dié twee ou manne van Vanderbijlpark het nog nooit geskrik vir ’n stuk skroot wat dekades gelede ’n spoggerige motor was nie.

Op 80 is hulle seker die oudste restoureerders van antieke motors in die land. Saam het hulle al meer as 100 motors,  trekkers, stoomenjins en stilstaande enjins uit die dood laat herrys, vertel hulle. Gered van die talle motorbegraafplase landwyd, soos Eddie dit stel.

Kiertsregop en flink werskaf die twee elke dag in hul werkwinkel in die Sylviavale Heritage Museum hier op die Sylviavale-hoewes aan die buitewyke vanVanderbijlpark. Rustig wees?

Nee wat, dis vir ou mense. “As ek my nie met die karre kan besig hou nie,’’ sê Johan, “sou ek seker lankal daisies opgestoot het.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010