Terwyl Oscar Pistorius nou beter aanpas by die lewe in die gevangenis as die vorige keer toe hy daar was, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) vandag bekendgemaak hulle gaan teen die voormalige Paralimpiese atleet se “ligte” vonnis van ses jaar appelleer.

Die Daily Mail berig ’n bron in die Pistorius-familie het gesê Oscar vaar heel goed in die hospitaalafdeling van die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria.

“Dis vir hom baie makliker; hy is geestelik beter ingestel . . . Hy het vrede met waar hy nou is,” het die familielid gesê. “Hy hoop om op sy studie te konsentreer en kry baie vertroosting deur sy geloof. Hy sal sterk wees en hierdeur kom met meer gemoedsrus.”

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het aan Huisgenoot bevestig die staat wil appelleer teen die vonnis wat Oscar opgelê is weens die moord op sy meisie Reeva Steenkamp.

Luidens ’n verklaring deur die NVG sal die staat later vandag hofdokumente indien waarin hulle aansoek doen om verlof tot appèl teen die vonnis wat regter Thokozile Masipa vir Oscar op 6 Julie opgelê het.

Die staat meen die ses jaar gevangenisstraf pas nie by die misdaad nie.

“Dit is skokkend lig en kom neer op ’n onreg. Dit het die potensiaal om die (regstelsel) se aansien skade te berokken,” lui die verklaring.

“Ons hoop die appèl sal duidelikheid bring met betrekking tot die beginsels van vonnisoplegging, veral in misdaadkategorieë met ’n minimum vonnis wat neergelê is deur wetgewing, nieteenstaande dat ’n regsbeampte die diskresie het om van ’n minimum vonnis af te wyk nadat dwingende faktore in ag geneem is.”

Met die vonnis wat Oscar op 6 Julie opgelê is, is dit die tweede keer dat hy tronk toe is. Oscar het reeds ’n jaar in die Kgosi Mampuru II-tronk deurgebring nadat hy aanvanklik aan strafbare manslag skuldig bevind is. Hy is in Oktober verlede jaar op korrektiewe toesig vrygelaat.

Sowat twee maande later het die appèlhof in Bloemfontein beslis dat Oscar skuldig is aan moord.