A photo posted by emo adams (@emo_adams) on

“Vandag het dié Samaritaan genaamd Randal dit weer aan my terugbesorg nadat hy dit op ’n veld opgetel het,” het hy by ’n foto van hom en Randal geskryf op Facebook en Instagram.

“Ek het hom probeer beloon vir sy werk, maar hy het geantwoord: ‘Nee dankie, ek is net ’n mens wat iets aan jou terugbesorg wat aan jou behoort.”

Emo het by navraag gesê sy beursie is so ’n maand of wat gelede deur moontlik ’n sakkeroller gebuit toe hy kospakkies uitgedeel het in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte waar hy grootgeword het. “Ek het niks gevoel nie,” sê hy. “Ek dink ek het toe net my nuwe rybewys en ID gekry en ek dink daar was so R2 000 daarin,” vertel Emo.

Sy beste vriend, Suri Boltman, wat saam met hom in die sanggroep Jag was, bly deesdae in Amsterdam. Dié bel toe ’n paar weke later om te vra of Emo sy beursie verloor het.

“Ek vertel toe vir hom die storie en hy sê toe ’n ander tjommie van my het nou gebel om te sê ’n ander dude het dit gekry,” sê Emo.

“Die ou wat vir Suri gebel het was Ezra Lingeveldt.” Ezra was ’n top 10-finalis in die eerste seisoen van die Idols-sangkompetisie in 2002. Ezra het toe vir Emo Randal se nommer gegee en Emo se span het toe Randal gekontak en dié het bevestig hy het inderdaad Emo se beursie opgetel.

“Natuurlik is die kaarte en alles weg. Die ding wat ek die meeste wou hê was of my ID boek of my rybewys en hy het die rybewys gekry en hy wou dit terugbesorg aan my.”

“Ek moes hom toe êrens tussen die pandokkies in (die township) Philippi kry,” vertel Emo.

Hy het toe vandag Randal voor die Philippi-polisiestasie ontmoet. “Ek wou hom toe uit sort met ’n geldjie of iets net om dankie te sê en hy wou niks hê nie. Hy het net gesê: ‘Dis joune. Ek gee dit net terug.’ Dit was so koel.”

Ons het beslis meer mense soos Randal in die lewe nodig!