Of dalk juis, in ag genome hoe straf die mededinging tussen verbruikerstegnologie-maatskappye is . . . 
 
Hoe ook al, die Note 7 wat verlede jaar in sommige gevalle aan die brand geslaan en skade veroorsaak het, ook aan Samsung se goeie naam, keer binnekort terug . . . as die Galaxy Note Fan Edition.

Die Note FE is "volkome veilig" met 'n nuwe soort battery, het Samsung verklaar. Dit sal sowat 700 000 Suid-Koreaanse won kos ($611 of R9 000), ongeveer twee derdes van wat die Note 7 oorspronklik gekos het, wanneer dit Vrydag die rakke in Suid-Korea tref.

Sowat 400 000 Note FE-fone, gemaak van nuwe komponente en foutlose onderdele uit die paar miljoen fone wat Samsung verlede jaar aan die mark moes onttrek, sal aanvanklik bemark word. Dit sou eers net 150 000 gewees het, maar dié soort fone het blykbaar, ongeag hul geskiedenis, steeds 'n beduidende aanhang.

Met die Note 7 se oorspronklike uitreiking was dit een van Samsung se duurste fone. Maar weens die veelbesproke probleem met batterye wat oorverhit en vlam gevat het, het dié vlagskipprojek toe ongelukkig ontaard in een van die ergste knoue in die geskiedenis van die elektronika-reus.

Hulle moes teen enorme onkoste die fone terugroep, eindelik die hele reeks kelder en enige fone wat nie terugbesorg is nie, veiligheidshalwe met 'n sagtewarebywerking buite werking stel.

Die affêre het die maatskappy blykbaar meer as R70 biljoen aan bedryfswins gekos. Maar Samsung was eintlik meer bekommerd oor skade aan sy goeie beeld; lugrederye het byvoorbeeld ook die Note 7 op vlugte verbied en foto's van verskroeide fone is in die sosiale media versprei.

'n Omvattende ondersoek het ontwerp- en produksiefoute met twee verskaffers se batterye uitgewys.

Samsung is toe ook verplig om planne vir die uitreiking van sy volgende spogfoon, die Galaxy S8, te verhaas. Dié is wel wyd geprys en onder meer as die grootste verbetering in slimfoonontwerp in jare bestempel.

Samsung het met die Note FE ook geluister na omgewingsgroepe se pleidooie dat elektroniese onderdele ná die groot terugroepprojek hergebruik word.

Die slanke model spog onder meer met 'n 14,25 cm-skerm, 'n iris-skandeerder en 'n stilus waarmee jy op jou raakskerm kan skryf en teken. Die maatskappy besluit later of hulle dit ook in ander wêrelddele sal bemark.

Bronne: theverge.com, news.samsung.com, Reuters, Facebook, YouTube