Pasop vir die Wangari-slenter!

[caption id="attachment_162809" align="alignnone" width="600"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

Die selfoondiensverskaffer MTN waarsku kliënte teen bedrieërs wat ’n mens se selfoon gebruik maar sorg dat jy die een is wat vir die peperduur gelag moet betaal.

Mamello Raborifi, woordvoerder van MTN, sê selfoongebruikers word vanaf ’n onbekende internasionale nommer gebel. Sodra die gebruiker die oproep beantwoord, word buitensporig hoë bedrae op sy selfoonrekening gehef. As die gebruiker die oproep misloop en dan terugbel, is die koste selfs groter.

Mamello sê die slenter is ’n duur intekendiens wat buitensporige bedrae hef en waaruit bedrieërs baie geld verdien.

MTN monitor die oproepe daagliks en het van die nommers versper sodat gebruikers nie kan terugbel nie. Gebruikers moet soortgelyke nommers blokkeer, nie terugbel na onbekende internasionale nommers nie en verdagte nommers by MTN aanmeld.