Dis nog nie amptelik nie, maar daar is glo ’n nuwe hoofakteur vir Fifty Shades of Grey gekies. Variety het onlangs berig die ietwat onbekende Ierse akteur Jamie Dornan (31) sal Anastasia Steele op die silwerdoek verlei as Christian Grey met sy voorliefde vir bondage.

Hier is vyf goed wat jy nie oor Jamie geweet het nie:

  1. Hy modelleer Calvin Klein-onderklere en sal daarom seker nie omgee om sy klere voor die kamera te laat waai nie. Hy was ook al die gesig van die mansgeur Dior Homme.
  2. Die Britse aktrise Keira Knightly (28) het hom “ontdek”. Die twee het op ’n fotosessie vir die weeldegoedere-onderneming Asprey ontmoet. Sy het hom vastrapplek in die toneelwêreld help kry deur hom aan haar agent voor te stel.  Die twee het twee jaar lank uitgegaan.
  3. Hy het Sheriff Graham gespeel in die eerste seisoen van die sprokiesagtige Once Upon a Time en vertolk die rol van ’n genadelose reeksmoordenaar wat Belfast teister in die BBC-reeks The Fall. Dit is onlangs vir ’n tweede seisoen hernu.
  4. Sy pa, prof. Jim Dornan, is ’n verloskundige, maar het in sy jong dae daarvan gedroom om akteur te word.
  5. Jamie gaan binnekort pa word. Hy en sy vrou, die sangeres en liedjieskrywer Amelia Warner, het in Junie bekendgemaak Amelia (31) verwag hul eerste kind. Die twee is in April vanjaar getroud.

Saamgestel deur Petro-Anne Vlok

Bronne: nytimes.com, dailymail.co.uk, variety.com, wikipedia.org