Agt mense is in hegtenis geneem nadat ’n terreuraanval by die parlement in Westminster, Londen, Woensdag vyf mense dood gelaat het.

Beamptes het deurnag gewerk in reaksie op die aanval. Soektogte by ses wonings het tot die inhegtenisnemings gelei. “Ons glo steeds die aanvaller het alleen opgetree en is deur internasionale terreur geïnspireer,” het die polisie se Mark Rowley gesê. Dit is die dodelikste terreuraanval in Londen in 12 jaar. Die mense wat gesterf het, is ’n vrou in haar 40’s, ’n man in sy 50’s en ’n polisiebeampte, Keith Palmer, wat die parlement beskerm het. Die aanvaller self is ook doodgeskiet. ’n Vyfde slagoffer is later bygevoeg.
Die aanvaller het in ’n voertuig oor ’n besige brug gejaag en voetgangers raakgery. Nadat hy naby die hek na die parlement in ’n botsing betrokke was, het hy die polisiebeampte met ’n mes doodgesteek en die parlement probeer binnestorm. Ander polisielede het hom doodgeskiet. Van die 40 beseerdes word 29 in die hospitaal behandel.

Die toestand van sewe van die gewondes is steeds kritiek. Die aanvaller se naam is nog nie bekendgemaak nie. Lof het ook ingestroom vir Palmer, die gestorwe polisielid. Hy het die aanvaller probeer keer om die parlement te betree, waarna die man hom noodlottig met die mes gewond het. Hy “het sy lewe gegee om die demokrasie te beskerm wat ons koester”, het die polisie bygevoeg.

Die Islamietiese Staat het intussen verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Bronne: BBC, CNN, The Guardian.