Die James Bond-franchise het aangekondig dat die volgende aksiefilm op 8 November 2019 uitgereik gaan word. 

Hoewel ’n datum vir die uitreiking van die fliek bekend gemaak is, heers daar groot onsekerheid oor die 27ste aflewering van dié bekroonde reeks.

Geen rolverdeling, besonderhede of selfs die naam van die fliek is bekend gemaak nie. Die tergende onthulling deur die franchise beantwoord sodoende nie veel vrae nie.

Daniel Craig speel al sedert 2006 se Casino Royale die Britse geheime agent James Bond.

Net die tyd sal leer of die bekroonde Daniel te sien sal wees in die nuwe aflewering, wat deur Michael G. Wilson en Barbara Broccoli vervaardig gaan word.

Die Bond-reeks is een van die langste filmfranchises in geskiedenis met akteurs soos Sean Connery, Roger Moore en Pierce Brosnan wat al die rol van die vooraanstaande spioen vertolk het.

Idris Elba, Tom Hiddleston en Tom Hardy is glo ook as potensiële kandidate genoem om die skoene van MI6 se geheime agent te vul, berig EWN.

Nou begin die lang wag voor einde 2019.

Bronne: EWN, Hollywood Reporter, CNN