Klink na die ontknoping van ’n goedkoop, cliché-agtige fliek, of hoe?

Nie vir die mense hier onder nie.

 

Verskeie mense het oor die jare beweer hulle is deur bonatuurlike wesens van ander planete ontvoer. Party van hierdie stories pas haarfyn in die tipiese ontvoeringsbeskrywings, terwyl ander heeltemal vreemd is.

Ons het ’n lys opgestel van 10 van die gewildste ontvoeringstories – en jy moet maar self besluit of hulle geglo kan word.

1. Jesse Long

Hierdie ondervinding is glo een van die “betroubaarste ontvoerings deur ruimtewesens”.

Jesse het beweer hy is dikwels ontvoer sedert hy vyf jaar oud was. Hy vertel in besonderhede van sy ondervindings op hierdie video, wat werklike filmmateriaal bevat oor die manier waarop hy gehipnotiseer word.

2. Antônio Vilas Boas

Antônio was ’n boer van Brasilië wat beweer het hy is in 1957 deur ruimtewesens ontvoer. Soos die storie loop, het hy in die nag gewerk om die warm dagtemperature te ontwyk toe hy ’n rooi ster in die lug opmerk.

Voor hy met sy trekker kon ontsnap, is hy deur vier humanoïede in grys oorpakke ontvoer. Hulle het klein, blou ogies gehad en blafgeluide gemaak.

Volgens die boer is al sy klere afgestroop voor hy met ’n vreemde soort jel bedek is.

’n Vroulike humanoïed het die vertrek binnegekom, en omdat hy tot haar aangetrokke gevoel het, het die twee seks gehad.

Nadat sy sekere tekens gemaak het wat volgens sy interpretasie beteken het sy is swanger en dat sy die baba in die ruimte sal grootmaak, is Antônio op ’n toer deur die tuig geneem voor hy weer afgelaai is.

3. Travis Walton

Travis, ’n Amerikaner, het beweer hy is in 1975 deur ruimtewesens ontvoer toe hulle hom aan boord van hul swewende goue, skyfvormige tuig geneem het. Luister gerus na hierdie interessante onderhoud waarin hy oor die ondervinding gesels.

4. John Salter jr.

In hierdie storie was John en sy seun besig om te ry toe hulle skielik besef dat hulle nie net in die verkeerde rigting ry nie, maar hulle kon ook absoluut geen rekenskap gee van ’n uur van hul tyd nie.

Nadat hulle ’n VVV in die lug opgemerk het, het albei se geheue stadig teruggekom. Hulle onthou hulle het ’n groep kinders en ’n halfmens gesien. Pleks van bang, het hulle veilig en beskermd gevoel.

Hulle het trouens ’n volledige mediese ondersoek ondergaan en daarna was hul gesondheid beter. Selfs die letsel wat op John se voorkop was, het ná die ontmoeting verdwyn . . .

5. Hilary Porter

“Ek is my hele lewe lank deur ruimtewesens ontvoer,” het Hilary beweer. “Ek het nie hierdie soort lewe gekies nie. Ek het nie hiervoor gevra nie, maar dit gebeur al so lank as wat ek kan onthou.”

Soos in die geval van Jesse, was haar eerste ontmoeting toe sy vyf jaar oud was. Sy het in die veld agter hul huis gespeel toe “ ’n reptielagtige ruimtewese skielik voor my was”.

“Sy vel was skubberig, hy het swart gate op sy neus gehad en ’n klein mondjie.” Nadat hy haar in die rigting van die tuig getrek het, het sy haar bevind in ’n vertrek met konsoles en “klein figuurtjies wat rondbeweeg het”.

“My klere is afgestroop en hulle het my op ’n soort bed neergesmyt.

“Hulle het ’n aaklige, skerp instrument in my liggaam gesteek terwyl ek geskreeu het. Ek onthou niks van wat daarna gebeur het nie.’

6. Frederick Valentich

Frederick is, in teenstelling met die ander mense wat ontmoetings met ruimtewesens gehad het, nooit weer gesien nie.

Hy was in die 1970’s ’n aspirantvlieënier op ’n opleidingsvlug toe hy die lugverkeerbeheer van Melbourne inlig hy word deur ’n VVV agtervolg wat sowat 300 m bokant hom was.

Die tuig het ook ’n groen lig uitgestraal. ’n Oomblik later het hy enjinprobleme ondervind. Toe lugverkeerbeheer hom vra om die tuig te beskryf, het hy geantwoord: “Dit is nie ’n vliegtuig nie” en daarna is die verbinding deur skraapgeluide onderbreek en eindelik beëindig.

Nóg Frederick nóg sy vliegtuig is ooit gevind.

7. Allagash- Ontvoerings

Vier vriende het op ’n spookagtige aand in die plattelandse distrik Maine in Amerika kampeer. Op hul tweede aand daar het hulle ’n besonder helder lig opgemerk.

Op daardie tydstip het hulle hulle nie veel daaraan gesteur nie. Toe hulle die volgende aand weer gaan hengel, het hulle weer die lig gesien en toe het dit hulle heeltemal verswelg.

Hulle het op dieselfde manier by die kampterrein wakker geword en kon niks van die ontmoeting onthou nie. Toe begin die nagmerries.

Al vier het soortgelyke drome aangemeld: Hulle was in ’n ruimtetuig saam met ruimtewesens met groot koppe en lang nekke.

Op aanbeveling van VVV-kenners het hulle terapie onder hipnose ondergaan om hul verlore geheues terug te roep, en agterna het hulle verskriklike stories vertel van eksperimente wat op hulle uitgevoer is.

Skepties? Hulle is almal verstandelik stabiel verklaar en het ’n leuenverklikkertoets geslaag . . .

8. Betty en Barney Hill

Betty en Barney was ’n Amerikaanse paartjie wat in 1961 beweer het hulle is vir twee dae weggevoer.

Nadat hulle ’n helder lig gesien het wat hulle vir ’n verskietende ster aangesien het, is hulle deur humanoïede wesens aan boord van ’n tuig geneem.

Daar word geglo dit is die “eerste wyd gerapporteerde geval van ’n VVV-ontvoering in die Verenigde State” en die storie is selfs in 2011 met sy 50-jaarherdenking op ’n amptelike plaat langs die snelweg vereer.

Psst...so gepraat van die ruimte

Het jy al jou kaartjies bespreek vir Gateway to Space: Die uitstalling? Gaan loer hier vir ’n agter-die-skerms-kykie en bespreek vandag nog jou kaarjie by Computicket.

GTS colour on black HG

Bronne: businessinsider.com, ufoevidence.org, mirror.co.uk, huffingtonpost.com

Ook op Huisgenoot.com

Kan jy glo? Dié nege vreemde goed gebeur in die ruimte met ruimtevaarders

Bel ons binnekort vir ET? Stephen Hawking meen beslis so

Dié foto van Suid-Afrika vanuit die ruimte sal jou asem wegslaan

En daar vertrek die sonaangedrewe Solar Impulse 2 vir ’n reis om die wêreld!

Houston, ons het ’n superaanhanger! SA man besoek Nasa meer as 60 keer