Deur Petrus Malherbe Stef Bos, die tokkelende kitaarspeler van Nederland, toer eersdaags deur Suid-Afrika saam met sy band Lae Lande. Die toer val saam met die uitreiking van Stef se nuwe album, Kaalvoet, sy sewende Suid-Afrikaanse album en derde Afrikaanse titel.

'Vir ons is dit soos om op ’n musikale vakansie te gaan.'

“Dis die eerste keer in meer as ’n dekade dat ek met my hele band op toer gaan,” het Stef uit Nederland laat weet.

“Vir ons is dit soos om op ’n musikale vakansie te gaan.” Die hele band kom saam.

Stef, wat sing en die kitaar en klavier speel, Lené te Voortwis op die baskitaar, Steven Cornillie wat klavier speel, René van Mierlo wat ook kitaar speel en dan ook die Suid-Afrikaner Riaan van Rensburg, wat Stef spesiaal inbring op die dromme.

Spesiale album

Vir Stef is Kaalvoet ’n baie spesiale album wat net weer sy verbintenis met Afrikaans en Suid-Afrika bevestig. “Afrikaans is vir my baie spesiaal,” vertel hy.

Stef is in 2009 met ’n Suid-Afrikaner getroud en leef al om die halfjaar óf in Kaapstad óf in Nederland. “My kinders is in ’n Afrikaanse skool; my vrou, Varenka, is Afrikaans. Ek hoor Afrikaans daagliks by die huis.”

Die taal was nog altyd sentraal in sy ontdekking van die land en homself. “Ek het myself hier musikaal ontwikkel,” verduidelik hy.

“My eie Hollandse taal het ontwikkel. Om musiek in Afrikaans te skryf is vir my soos om ’n klein seuntjie in ’n snoepwinkel te wees. Daar is net so baie goed om oor opgewonde te wees.

“Daarom is Kaalvoet my liefdesverklaring aan die taal en die kultuur. Die mense het my verwelkom en ek het al so baie by die land gekry.”

Stef skryf al die laaste drie jaar aan die musiek op Kaalvoet. Party liedjies het spontaan gebeur, soos Binnelandse Sake wat hy eendag geskryf het terwyl hy in die tou by binnelandse sake in Kaapstad gewag het.

Tipies Afrikaanse ding

Die naam Kaalvoet is self ook spesiaal.

“Om kaalvoet te wees is so ’n tipies Afrikaanse ding,” merk hy op.

“In Hollands kry jy net die woord ‘barrevoet’, so selfs die woord is tipies Afrikaans. My kinders loop graag kaalvoet.

Jy kry dit nie in Nederland onder die mense daar nie. Ek moes myself as’t ware leer kaalvoet loop.” Nes ’n regte Afrikaanssprekende.

Tog word sy Hollandse herkoms op sy komende toer geensins op die agtervoet geplaas nie.

“Ek is so opgewonde om by die Kasteel van Goeie Hoop in Kaapstad op te tree,” sê hy trots. Een van Stef se konserte gaan daar plaasvind. “As jy die Kaap regtig weer Hollands wil maak, moet jy in die kasteel sing, want dit is immers waar alles begin het. Dit waar ek nog ’n ware Kaaskop kan wees.”

Vir ’n volledige lys van Stef se Suid-Afrikaanse toer en waar om kaartjies te koop, kliek hier.