[caption id="attachment_160638" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Pexels Foto ter illustrasie. Foto: Pexels[/caption]

Ontmoet Stubbur, Gudni, Bríet en Ronja, die oulike katjies van die stroomdiensreeks The Catdashian. In Ysland, waar die reeks verfilm word, noem aanhangers dit The Kattarshians.

“Dit het sowat ’n jaar geneem om saam te stel, want ons wou hê dierewelsynsowerhede moes dit goedkeur,” het Inga Lind Karlsdóttir, die vervaardiger, aan Vice gesê.

“En hier is ons nou, ’n jaar later, met die eerste werklikheidsreeks met katte as die hoofsterre. Almal wat destyds daarvoor gelag het, lag nie meer nie.”

Die idee agter die reeks is dat vier weeskatte in ’n oorgroot pophuis woon. Drie GoPro-kameras verfilm hul daaglikse aktiwiteite. Dié bestaan uit speel en middagslapies.

Die katte word drie tot vier weke lank verfilm voor hulle aangeneem word en ander hawelose katte hul plek inneem. Saans gebruik die vervaardigers nagvisie-kameras om te kyk hoe die diere snoesig slaap.

Die doel van die projek, in samewerking met die Yslandse katbeskermingsgenootskap, is om om te sien na die katte en seker te maak hulle kry genoeg kontak met mense.

“Ons is mal oor alles wat hulle doen,” sê Inga. “Dis groot pret wanneer hulle bos gaan en die huis verwoes, maar dis ook kalmerend om hulle te sien slaap. Dis goed vir die siel.”

Die reaksie op die reeks is ongelooflik, sê sy. In die eerste 24 uur nadat dit uitgesaai is, is dit meer as 3 000 keer in Ysland gedeel – indrukwekkend vir ’n land met ’n bevolking van net sowat 300 000 mense.

Sy sê ook die program is goed vir mense wat allergies is vir die oulike diere. “Jy kan net daar sit en op jou rekenaarskerm na hulle kyk.”

Kyk hier:

Bronne: Vice, YouTube