Hulle is langer as enige van die top-sangers by Huisgenoot-Skouspel op die verhoog en maak al 11 jaar by Huisgenoot-Skouspel musiek uit die boonste rakke – selfs al kan party van die 30 000 mense in die gehoor hulle nie eens sien nie.

Maar vir die 30 lede van die Johannesburg Music Initiative (JMI), die super-orkes by Huisgenoot-Skouspel wat saam sowat 600 jaar se ondervinding het, is dié musiekgeleentheid jaar ná jaar vir hulle ’n hoogtepunt wat hulle nie misloop nie.

DSC02743

“Die orkes is al ’n klein familie, wat Huisgenoot-Skouspel van binne en buite ken,” sê Elsabé Laubscher, die JMI se uitvoerende direkteur.

“Die gehoor besef dit nie altyd nie, maar die sangers sing ’n paar liedjies en loop dan weer van die verhoog af, maar die orkes moet vir die volle konsert musiek maak sonder om stoom te verloor – en hulle slaag daarin.”

Die lede, wat almal voltyds musiek maak, is op ’n vryskutbasis by die JMI. Hulle speel in top-orkeste landwyd, is almal onderwysers en lektore by verskeie skole en universiteite, en het al van ons geliefdste Afrikaanse sangers, onder andere Chris Chameleon, Laurika Rauch, Rocco de Villiers en André Schwartz, by feeste en tydens opnames begelei. Om nie eens te praat van die rolprent- en -televisieklankbane waarby hulle al betrokke was nie.

“Dis eintlik ongelooflik: Hulle speel ’n groot verskeidenheid van style, onder meer van klassiek en jazz, tot kwaito en disko,” vertel Elsabé.

“Die feit dat hulle so veelsydig is, maak regtig van hulle van die beste musikante in die land.”

[caption id="attachment_56862" align="aligncenter" width="600"]Een van die opvoedkundige konserte wat JMI jaarliks hou Een van die opvoedkundige konserte wat JMI jaarliks hou[/caption]

Hoewel hul programme reeds vol is, knip hulle ook jaarliks tyd af om in samewerking met die departement van onderwys by skole in die Vrystaat en Wes-Kaap opvoedkundige konserte te hou.

“Tussen 1 000 en 3 000 kinders van sowat 50 skole in die omgewing sal die konserte kom bywoon om meer van musiek en musiekinstrumente te leer,” sê Elsabé.

“Die musikante sal die musiek memoriseer en tussen die kinders deurloop terwyl hulle speel sodat die opgewonde kinders ook die instrumente van nader kan bestudeer.

“So ploeg hulle weer hul talente terug in die gemeenskap.”

Om nog oor die JMI en hul musikante te lees, besoek www.jmiorchestra.co.za.

– Christiaan Boonzaier