Maar eersdaags gaan ons haar sien in ’n rol soos nooi tevore nie.

Een waar sy met ’n vuurwapen rondbeweeg en nie terugstaan om reeksmoordenaars op hul plek te sit nie.

“Die lekker ding van aktrise wees is dat jy jou in ’n wêreld kan bevind waar jy nooit andersins sou wees nie,” vertel Lika oor haar rol in die speurtelevisiereeks Die Byl.

Dié kykNET-reeks speel in die Wes-Kaap af en handel oor ’n fiktiewe elite eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se afdeling vir geweldsmisdaad.

Die eenheid spesialiseer in die ondersoek van reeksmoorde en word aangevoer deur kol. Piet ‘Byl’ van der Bijl (gespeel deur Waldemar Schultz), ’n oud-moord-en-roof-speurder wat roem verwerf het vir sy hantering van verskeie hoëprofielsake.

Lika vertolk die rol van kapt. Lena Maree wat as ’n forensiese sielkundige deel van Byl se span vorm. Sy is ’n aanvallige vrou met ’n vlymskerp intellek en sielkundige insig.

“Elke episode ondersoek ’n nuwe saak en kykers ontmoet elke week nuwe reeksmoordenaars wat verskriklike goed aanvang,” vertel Lika.

Al is die storielyn en karakters fiktief, verseker sy die gebeure is baie na aan die werklikheid.

Vir haar was dit interessant om die wêreld van speurders te leer ken en meer te leer oor hoe ’n reeksmoordenaar se kop werk.

“Dit het baie dink- en huiswerk gekos om ’n karakter met ’n harder buitekant te vind,” erken sy.

Sy het baie navorsing gedoen en onder meer dr. Micki Pistorius se boek Profiling Serial Killers: And Other Crimes in South Africa gelees. Die baasspeurder Piet Byleveld het self ook die reeks se stel besoek om die akteurs, produksiespan en teksskrywers by te staan.

[caption id="attachment_130323" align="aligncenter" width="600"]Die gedugte span bymekaar: Lika Berning, Marvin Lee Beukes, Waldemar Schultz en Eric Nobbs. Foto: Tertius Meintjies. Die gedugte span bymekaar: Lika Berning, Marvin Lee Beukes, Waldemar Schultz en Eric Nobbs. Foto: Tertius Meintjies.[/caption]

En nee, hoewel Piet raad gegee het vir die reeks, is dit nie op hom of sy sake geskoei nie.

Lika was onlangs ook te sien in die rolprent Uitvlucht, waarvan haar pa, Regardt van den Bergh, die vervaardiger is. Die rolprent lê haar na aan die hart, veral omdat haar familie by die fliek betrokke is.

Sy het ’n klein rol teenoor haar man, Clyde Berning, gespeel en is ook die fliek se medevervaardiger.

Die draaiboek is op Regardt en sy vrou, Clara Joubert van den Bergh, se lewensverhaal geskoei.

“My pa het destyds vir my die draaiboek se eerste draft gestuur en ek het ’n traan gepink terwyl ek dit in die bed lê en lees het,” onthou Lika.

“Dis ’n pragtige liefdesverhaal oor tweede kanse. Die hart van die fliek is eg en dit was vir my ’n voorreg om deel daarvan te kon wees.”

Al speel sy baie rolle bly ma-wees haar belangrikste en lekkerste rol. “Familie is nommer een,” verseker sy.

Waar sy en Clyde in Wynberg in Kaapstad woon, hou hul twee seuntjies, Hugo (4) en Jesse (9 maande), hulle behoorlik besig.

Intussen bly Lika se dagboek vir die res van die jaar vol flieks waarin sy rolle het. Sy begin eersdaags verfilm aan Table Manners waarin sy die rol van ’n kosblogger vertolk.

“Ek is self mal oor kos en is betrokke by die Plett Food Film Festival, dus sien ek baie uit na die rol.”

Die Byl begin op Dinsdag 12 Julie om 20:00 op kykNET (Kanaal 144).