Minstens 75 persent van Suid-Afrikaners wat vir omkoopgeld gevra word, betaal dit, volgens ’n peiling deur die Etiek-instituut van Suid-Afrika (EtiekSA).

Die gemiddelde omkoopbedrag waar verkeersboetes ter sprake is, is sowat R200 en die meeste omkopery gebeur in Limpopo.

Die persentasie is kommerwekkend, sê prof. Deon Rossouw, hoof van EtiekSA. “Feitlik almal stem saam dat nie genoeg gedoen word om omkopery in die land hok te slaan nie, maar dalk moet ons meer praat oor mense se individuele verantwoordelikheid om nie aan omkopery deel te neem nie,” het hy in ’n verklaring gesê.

In die peiling, wat onder 6 380 mense in Massmart-winkels in Gauteng, Durban, Kaapstad en Polokwane gedoen is, is bevind 25 persent van hulle het nie omkoopgeld betaal toe hulle daaroor genader is nie.

Daar is ook bevind dat 26 persent van hulle iemand ken wat die afgelope jaar vir omkoopgeld gevra is. Die meeste omkoopgeld (36 persent) was glo om verkeersoortredings te vermy, gevolg deur omkoopgeld vir ’n werk (17 persent), waar ongeskoolde en halfgeskoolde werkers die kwesbaarste groep was.

Algemeen in privaat sektor

Omkoopgeld vir die toekenning van tenders het 7 persent van die antwoorde uitgemaak, met 4 persent wat verband hou met laer pryse of gratis goedere van besighede.

Die algemeenste omkoopbedrag is R100, met 55 persent van alle omkopery wat onder die R1 000-kerf val.

Omkoopbedrae vir tenders was die hoogste gemiddelde bedrag (R103 288), en die laagste was vir verkeersoortredings (R219).

In die peiling, wat deur Massmart-Walmart geborg is, is ook bevind Limpopo is die provinsie waar jou kanse die hoogste is om vir omkoopgeld genader te word (48 persent).

Die Wes-Kaap (19 persent), Gauteng (25 persent) en Kwazulu-Natal (26 persent) was die plekke waar die kanse minder was om vir omkoopgeld genader te word. News24 Meer omkopery Ouers koop hul kinders met dwelms om Omkopery jaag ouers derduisende uit die sak