Jy is dol oor jou gunsteling-program, maar party karakters is ondraaglik. Hier is die irriterendstes:

Saamgestel deur Jessica Levitt

Die meeste van ons het ’n gunsteling-program waarmee ons skoon behep is. Of dit nou heruitsendings van klassieke reekse soos Friends is of nuwe programme soos Homeland en Grey’s Anatomy – in daardie tydgleuf is die kassie joune. Maar al hou ons hoe baie van die karakters, is daar party wat ons eenvoudig nie kan verdra nie. Hier is ’n lys van die toptien irriterendste TV-karakters van alle tye.

PROGRAM: HOMELAND

KARAKTERNAAM: CARRIE MATHISON

REGTE NAAM: CLAIRE DANES

HOEKOM? Sy is ’n CIA-ondersoekbeampte wat by die teenterreursentrum aangestel word. Maar sy ly oor aan bipolêre steurnis en is romanties betrokke by Nicholas Brody (Damian Lewis), ’n voormalige agent wat jare lank deur Al-Kaïda aangehou is. Hul aan-af-verhouding is uitmergelend en Carrie se gemoedskommelinge nog meer. Sjoe, selfs ons is keelvol.

IRRITASIEVLAK: 8/10

PROGRAM: GREYS ANATOMY

KARAKTERNAAM: MEREDITH GREY

REGTE NAAM: ELLEN POMPEO

HOEKOM? Óf jy is gaande oor haar, óf jy kan haar nie verdra nie. Sy is aandagsoekerig en foutvinderig en het ’n donker verlede – Meredith het ongetwyfeld ver gekom in Greys. Sy is al as een van die toptien mees gehate TV-sterre van alle tye aangewys. Maar Meredith Grey het die meeste van haar duiwels oorwin en probeer deesdae die volmaakte dokter, vrou en ma wees.

IRRITASIEVLAK: 6/10

PROGRAM: REVENGE

KARAKTERNAAM: EMILY THORNE

REGTE NAAM: EMILY VANCAMP

HOEKOM? Die Grayson-familie het haar pa verraai en laat vermoor sodat hulle kan voortgaan om hul sprokieslewe te lei. Emily doen alles in haar vermoë om wraak te neem . . . en ná die eerste paar episodes van seisoen een begin selfs sy wonder hoe lank sy haar kan wreek. Wel, blykbaar baie lank. Eers was sy geliefd. Mens het by haar soeke aanklank gevind. Nou is kykertalle baie laag en word gevra: hoe lank kan Emily nou eintlik kwaad bly en in haar verwronge web van leuens leef?

IRRITASIEVLAK:  6/10

SHOW NAME: GAME OF THRONES

KARAKTERNAAM: JOFFREY BARATHEON

REGTE NAAM: JACK GLEESON

WHY? Ryk, bedorwe, verwronge, siek, boos en harteloos – dit is maar ’n paar van die karaktereienskappe wat koning Joffrey beskryf. Namate hy stadigaan mag in die program verkry het, is haatgroepe wêreldwyd gestig. Sy optrede is wreed en almal wil hê Joffrey se skrikbewind moet eindelik op ’n einde kom. Maar sal dit? Die nuwe seisoen begin binnekort in Amerika wys en jy sal binnekort weet wat van die nare tiran word.

IRRITASIEVLAK: 10/10

PROGRAM: MAD MEN

KARAKTERNAAM: PETE CAMPBELL

REGTE NAAM: PETER DYCKMAN

HOEKOM? Daar is ’n miljoen redes waarom Mad Men gewild is en Pete Campbell is nie een van hulle nie. Hy is so te sê die enigste hoofkarakter wat nog nie ’n Emmy gewen het nie en dis waarskynlik omdat hy nie juis goed is met wat hy doen nie. Hy het al kwaai deurgeloop oor sy gebrek aan vaardigheid en sy karakter se vreemde waardes, en omdat hy die uiterste lamsak is. Dinamies en opwindend? Beslis nie.

IRRITASIEVLAK:7/10

PROGRAM: THE BIG BANG THEORY

KARAKTERNAAM:LEONARD HOFSTADTER

REGTE NAAM: JOHNNY GALECKI

HOEKOM? Hy is ’n bleeksiel. Hy het geen ruggraat nie en word gemanipuleer deur almal wat hy ken. Ontmoet Leonard. Die ou het regtig geen murg in sy pype nie. En al het sy papbroekige houding eers skares gelok, word dit nou die grootste fout in die program genoem.

IRRITASIEVLAK: 8/10

PROGRAM: WALKING DEAD

KARAKTERNAAM: LORI GRIMES

REGTE NAAM: SARAH-WAYNE CALLIES

HOEKOM? Sy steek dalk in die derde seisoen die lepel in die dak, maar dit keer aanhangers nie om ’n liefde-haat-verhouding met haar te hê nie. Afgesien daarvan dat sy ’n hopelose ma is en as ’n hartelose vrou bestempel word ná haar kaperjolle met haar man se beste vriend, was Lori se karakter waarskynlik die mees gehate een op die program. In seisoen drie slaag sy daarin om van haar aanhangers se guns terug te wen, maar sy sterf kort daarna en haar dood laat die meeste mense koud.

IRRITASIEVLAK: 5/10

PRORGAM: FRIENDS

KARAKTERNAAM: ROSS GELLER

REGTE NAAM: DAVID SCHWIMMER

HOEKOM? Hy is ’n bleeksiel wat obsessief is oor prehistoriese lewe. Hy is ’n klakous. En al is hy al jare lank of Rachel (Jennifer Aniston) verlief, het hy selde die moed om iets daaraan te doen. Ons weet hy speel toneel, maar iets aan ’n vervelige ou wat van dinosourusse hou, maak hom baie afstootlik.

IRRITASIEVLAK: 8/10

PROGRAM: WHAT I LIKE ABOUT YOU

KARAKTERNAAM: HOLLY TYLER

REGTE NAAM: AMANDA BYNES

HOEKOM? Selfs voor sy ’n warboel was, het min mense van Amanda Bynes gehou. As die energieke, bemoeisieke Holly in What I like About You is sy al bestempel as een van die mense met die irriterendste stemme in die bedryf. Trouens, daar is selfs eenkeer vir die vervaardigers ’n petisie gestuur om haar karakter te laat stil bly . . .

IRRITASIEVLAK: 9/10

PROGRAM: THE NANNY

KARAKTERNAAM: FRAN FINE

REGTE NAAM: FRAN DRESCHER

HOEKOM? Haar lag sal regtig glas kan laat breek. Haar praatstem is so skril dit enigiemand sal laat spring. En bel tog net asseblief die modepolisie oor die klere en groot hare. Fran Drescher het haar gewis herkenbaar gemaak met die langdurige en gewilde sitkom. Maar hoeveel mense kan nie haar stem verdra nie? Ons dink heelwat.

IRRITASIEVLAK: 10/10

PROGRAM: FULL HOUSE

KARAKTERNAAM: KIMMY GIBBLER

REGTE NAAM: ANDREA BARBER

HOEKOM? Dit neem jou dalk ’n paar oomblikke om die uiters irriterende Kimmy Gibbler van Full House te onthou – en ons is seker jy sal dan wens jy het nie. Haar kenmerkende sêding, “Hola Tanneritos”, het die meeste aanhangers laat ineenkrimp. En, ja, jy kan lag vir ’n simpel haarstyl en twyfelagtige modesin, maar daardie stem en inmengerige karakter moet eerder vergeet word.

IRRITASIEVLAK:  9/10

PROGRAM: TWO AND A HALF MEN

KARAKTERNAAM: CHARLIE HARPER

REGTE NAAM: CHARLIE SHEEN

HOEKOM? Op die program is hy ’n ryk rokjagter met ’n drankprobleem. In die regte lewe is hy nie veel anders nie. Al is sy karakter minsaam, het resensente Charlie Sheen daaroor gelooi dat hy bloot homself op die program speel. Dit verg mos nie juis toneelspel nie. Tog was hy destyds een van die hoogs betaalde sitkom-akteurs van alle tye. ’n Paar jaar later het hy in onguns verval.

IRRITASIEVLAK: 7/10