Die man wat wyd bekend is as die "Springs-monster" sal na verwagting Maandag weer in die Pretoriase hooggeregshof verskyn. Die 36-jarige man word saam met sy vrou daarvan beskuldig dat hulle hul vyf kinders vir etlike jare lank mishandel het. Die man is op 22 Mei 2014 aangekeer nadat sy 11-jarige seun na die bure gevlug het. In hul huis, wat weldra as die "Huis van Gruwels" bekend sou staan, is vyf kinders tussen die ouderdom van twee en sestien gevind. Aanvanklik is gedink sy vrou was ook een van sy slagoffers, maar 'n maand later word sy ook in hegtenis geneem nadat sy weier om teen haar man te getuig. Sy word ook aangekla van kindermishandeling, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Op 18 Mei 2015 word die man verwys vir psigiatriese evaluering.

Hy pleit op Maandag, 23 Junie 2016, skuldig aan een van die 22 aanklagte teen hom: dié van regsverydeling, maar ontken egter skuld op aanklagte van verkragting, mishandeling asook die besit en handel in dwelms.

Sy vrou pleit op haar beurt ook onskuldig op 20 aanklagte ondermeer tien van kindermishandeling en verwaarlosing. Sy het glo ook gefaal om twee van haar kinders skool toe te stuur. Sy het glo ook saam met haar man gepoog om haar 11-jarige seun te vermoor en het hom, terwyl hy ernstig beseer was, vir die polisie weggesteek.

Maar sy was glo ook bang vir haar man en ook 'n slagoffer van sy fisiese, seksuele en geestelike mishandeling. Sy kon glo nie haar kinders teen hom beskerm nie. Die vrou het ook ontken dat sy haar 16-jarige dogter forseer het om 'n dwelmhandelaar te wees.

Die man het erken dat hy twee maande voordat hy in hegtenis geneem is wel aan sy dogter se privaatdele geraak het. Sy vrou het glo vir hom gesê dis nie sy dogter nie, daarom het hy haar toe nie as sy dogter beskou nie.

Hy het voorts ontken dat hy haar jare reeds verkrag en molesteer het.

Die 11-jarige seun is glo net een keer deur hom aangerand, maar hy ontken dat hy hom beseer of probeer vermoor het. Toe hy die seun by die bure gaan haal het nadat die kind uit die huis gevlug het en by die bure gaan hulp soek het, het hy die seun geslaan en geklap. Die seun se ma het niks gedoen om te keer nie.

Die staat beweer die kinders was geslaan, geklap, met voorwerpe geslaan en met boeie of met tou vasgebind. Hulle is ook na bewering gebrand, geskok, platgeslaan en met pepersproei gespuit.

Op 3 Junie 2016 hoor die Noord-Gautengse hooggeregshof die kinders van die beweerde gruwelhuis se hande is geboei en hulle is in ’n kas gestop en met ’n blaasvlam aangerand.

Die hof is ’n virtuele toer van 360 grade van die huis gegee met beeldmateriaal wat met ’n Spheron-toestel geneem is. In die sitkamer is twee staalpilare waartussen een van die slagoffers, ’n 13-jarige seun, volgens die staat vasgemaak is.

Die huis en werf het onnet gelyk. Komberse en klere was langs ’n gat onder die huis gestrooi. Rommel het gedryf op die bietjie water wat in die swembad oor was.

“Die water in die swembad het ’n tyd lank nie chloor gesien nie,” het regter Eben Jordaan opgemerk. Op een van die foto’s is ’n rot in die huis sigbaar.

Ao. Lourens Smit, wat die 13-jarige seun by ’n tante se huis op Warden in die Vrystaat gekry het, het getuig die kind was erg gekneus en het gehuil. Die seun is daarheen geneem nadat hy na bure se huis in Springs gehardloop het om hulp te vra.

Lourens, self 'n inwoner van Warden, het getuig die polisie van Springs het hom gevra om na ’n huis te gaan waar die seun was. Hy het gesê hy was geskok oor die seun se toestand.

“Albei sy oë was blou geslaan. Een van sy wange was ook blou en hy het ’n sny aan sy een oor gehad,” het die beampte gesê.

'n Susterskind, Rina (18), het in 2013 self agt maande in die Huis van Gruwels gewoon. Daar was baie geweld in die huis, het sy aan Huisgenoot vertel, maar voeg by: “Ek sal dit nie mishandeling noem nie.”

Die saak duur Maandag voort.