Groot was Manita Singh se verbasing toe sy op 26 weke nie net geboorte skenk aan een dogtertjie nie, maar binne ’n halfuur vyf nuwe dogters verwelkom het.

Dié 25-jarige ma van Indië het nooit tydens haar swangerskap vir ’n skandering gegaan nie en was onder die indruk sy verwag net een baba.

Sy is oor die naweek opgeneem in die hospitaal in Ambikapur in die ooste van Indië ná sy erge geboortepyn begin ervaar het.

Haar vyfling is op 26 weke gebore. Elkeen weeg minder as 1,3 kg en is in dié stadium vir waarneming in die hoësorgeenheid van die hospitaal opgeneem.

Die feit dat Manita ’n vyfling verwag het, was vir haar man, Manesh (26), ook ’n reuse-verrassing.

Manesh meen hy is onsettend bly oor die geboorte van sy vyf dogters. Manita het twee jaar gelede ’n seun gehad wat kort ná geboorte gesterf het. “Ons was gebroke nadat ons ons eerste kind verloor het,” vertel Manesh.

“Ek glo God het nou opgemaak vir daardie verlies.”

Sowel die ma as haar vyf dogters is op die oomblik in ’n stabiele toestand, maar dokters hou die vyfling fyn dop. Vrese bestaan dat die babatjies nie gaan oorleef nie omdat hulle so vroeg gebore is.

“Ek kan maar net hoop hulle almal oorleef en leef lang gelukkige lewens,” het Manesh gesê.

– Petrus Malherbe

Bronne: Metro; Mirror

Ook op Huisgenoot.com:

Dis nou tyd vir Sylvester die leeu om te kalmeer

Is dié een van die wreedste of oorspronklikste poetse ooit?

‘Papierman’ omskep Britse stede in bekende Disney-tonele

Ons kan heelwat by dié 4-jarige gimnas leer

Mense ‘woedend’ ná wag vuurwapen ‘per ongeluk’ laat afgaan en twee seuns beseer