Net toe dit lyk asof die hartebreker Dawid Greeff sy streke laat staan het, seil daar ’n slang deur die Laan. En dié slang is allesbehalwe koudbloedig!

Met haar donker skoonheid en weerlose bruingroen oë laat Anne Loman die kunstenaar se kop behoorlik draai.

Anne, gespeel deur die talentvolle Lika Berning, is die nuwe gesig in die sepie 7de Laan en sy kom krap sake lelik deur-

mekaar.

Want net toe dit lyk asof Emma en Dawid eindelik geluk in mekaar se arms gevind het, steek Anne haar fyn neusie in hul sake. En sy het skaars vir Dawid gevra of hy ’n portret van haar kan skilder, of Emma begin wonder of Dawid weer sy lyf Casanova gaan hou.

Die rol verg heelwat verbeelding van Lika – sy is nou net meer as ’n jaar dolgelukkig getroud en mannejag is nou nie juis op haar doenlysie nie.

‘‘Ek moes diep in myself gaan soek om Anne te speel,’’ erken die skoonheid in die huis in Melville, Johannesburg, wat sy en manlief Clyde Berning nog vir ’n tydjie met ’n paar ander mense deel.

‘‘Anne is ’n komplekse en ongelukkige mens,’’ meen sy. ‘‘Haar man huur ’n privaat speurder om op haar te spioeneer en raak soms handgemeen met haar. So iets het gelukkig nog nooit met my gebeur nie!’’

Nou’s dit net geduldig wag en sien of Dawid en Emma se verhouding Anne sal oorleef . . .

Die rol het haar beslis laat groei, meen Lika, al is die kreatiewe wêreld vir haar niks nuuts nie. Inteendeel, toneelspel vloei deur haar are – hoe anders as jou ma die bekende aktrise Jana Cilliers en jou pa die gerekende regisseur Regardt van den Bergh is? Dan het sy nog die bekende kunstenaar Bettie Cilliers-Barnard as ouma aan moederskant en Dulcie van den Bergh, tant Stienie van die TV-reeks Agter Elke Man, as ouma aan vaderskant.

Lees meer oor Lika in Huisgenoot van 14 Januarie.