Google verwerk sowat 100 biljoen versoeke per maand; dit is sowat 3,3 biljoen per dag.

Wat aanlyn soektogte betref, het dit so ’n groot rol gespeel dat dit ’n werkwoord geword het: Mense soek nie “iets aanlyn nie”; hulle “google” dit.

Tog is daar ander soekenjins, selfs buiten Yahoo! en Microsoft se Bing. Baie van hulle is klein en stel ’n premie op anonimiteit en datasekuriteit.

Die soekenjin DuckDuckGo is in 2008 gestig en gebruik ’n prentjie van ’n eend as hul logo. Hulle beweer dat hulle nie data, byvoorbeeld ’n gebruiker se IP-adres, bêre nie. Dit stuur ook nie inligting oor ’n soektog na ander webtuistes nie, soos wanneer ’n gebruiker byvoorbeeld op ’n skakel klik wat aan ’n soektog verwant is.

Nadat die fluitjieblaser Edward Snowden bekendgemaak het dat die Amerikaanse regering landsburgers se aanlyn aktiwiteite dophou, het DuckDuckGo ’n dramatiese toename in gebruikers gesien; die getal versoeke is twee en ’n half keer groter.

In Februarie het hulle sowat 4,5 miljoen versoeke verwerk. DuckDuckGo grond sy soekresultate op data van sy mededingers en sy eie webkruiper.

Die soekenjin Ixquick spog ook daarmee dat hulle nie hul gebruikers se IP-adres bêre, persoonlike data aan derde partye stuur of koekies in lesers agterlaat nie.

Ixquick is in Nederland gebaseer en kry inligting bymekaar deur gelyktydig verskeie soekenjins te deursoek.

Sedert 2009 bedryf dit Startpage, wat anonieme soektogte op Google doen. Startpage verwerk sowat 5,2 miljoen versoeke per dag en het ook ná Edward se onthullings ’n vermeerdering in die getal gebruikers ervaar.

Qwant, ’n soekenjin van Frankryk, is verlede jaar van stapel gestuur en het in daardie jaar ongeveer 600 miljoen versoeke verwerk.

Hulle fokus is op privaatheid en sekuriteit, maar bied gebruikers ook ’n ware blik op die wêreld. Hulle glo soekenjins soos Google vorm soekresultate wat op gebruikers se ligging en soekgeskiedenis gegrond is.

Volgens Qwant het hulle nie sulke filters nie, en dit beteken gebruikers kry inligting van oor die hele wêreld gegrond op toepaslikheid eerder as die gebruiker se profiel.

Hulle sê hulle sal ’n koekie installeer om ’n soektog uit te voer, maar bêre nie inligting op die lang termyn nie.

Gebruikers kry ook ’n blik op gewilde inligting op webtuistes soos Twitter en Wikipedia, asook nuuswebtuistes. Ander resultate kan ook gewys word.

Europese owerhede probeer al jare ’n mededinger vir Google skep, maar sonder veel sukses.