Jy kan die name maar opnoem. Clyde Rathbone. Jonny Wilkinson. Ian Thorpe. Jonathan Trott.

Almal sportlegendes wat hard geslaan is deur depressie. Sommige van hulle terwyl hulle gespeel het en ander na hul aftrede uit professionele sport.

Selfs ons eie liefling, Derick Hougaard het ’n stryd met die swart hond gevoer.

[caption id="attachment_119560" align="alignnone" width="600"]Derick Hougaard (Foto: Luba Lesolie) Derick Hougaard (Foto: Luba Lesolie)[/caption]

In ’n onderhoud in Junie 2013 met Beeld Derick en sy voormalige vrou, Karlien van Jaarsveld het Derick sy depressie erken.

“Ek brand om weer te hoor hoe 60?000 mense net vir my ‘Liefling’ sing. Om daardie laaste aangee voor ’n drie te gee,” het Derick destyds vertel.

“?’n Moeilike skop in die 81ste minuut oor te sit. Ek wil so graag net my laaste wedstryd hê sodat ek die volgende oggend kan wakker word en weet dit was soos ek dit beplan het vir wanneer ek 32 of 34 jaar oud is. 100 toetse. 300 wedstryde vir die Bulle. Al die rekords.”

Maar die monster het aan Derick gevreet.

“Dit is moeilik om wakker te word en nie soggens te weet met wie ek nou te doen gaan kry nie.” Hy kan verskriklik bedroef wakker word. Hy kan nou so gelukkig lyk, maar in ’n kwessie van sekondes is Derick ongelukkig. Alles draai om die rugby en die gedagte van rugby en om weer te kan speel. Dit breek ’n mens,” het Karlien vertel.

Toe breek die nuus van die Suid-Afrikaans gebore Australiese rugbyspeler Dan Vickerman se dood. Die 37-jarige Vickerman is Saterdagaand in sy huis in Sydney oorlede. Geen misdadige optrede word deur die polisie vermoed nie.

Die voormalige Wallabie Owen Finegan het aan die Australian Broadcasting Corporation gesê sy oud-spanmaat het aan hom gesê hoe moeilik dit is om aan te pas ná sy uittrede uit rugby. Vickerman het in 2012 met rugby klaargemaak. “Verskeie sportlui vind dit moeilik om aan te pas ná ’n rugbyloopbaan. Veral as jy tien jaar of meer op die kruin van die sport was,” het Finegan gesê. In reaksie wat met Vickerman gebeur het, het die oudrugbyspeler Will Carling ’n artikel deur The Times getwiet waarin geskryf word dat ’n veldtog nodig is om rugbyspelers met geestesgesondheidsprobleme te help. Derick het dié twiet weer getwiet.

Greyling Viljoen, ’n sportsielkundige van Pretoria, sê depressie is algemeen onder atlete ná ’n uittrede uit die sport.

Daar is ook atlete wat aan depressie ly terwyl hulle op die kruin van hul loopbane is. Volgens statistiek, sê Greyling, het 25% van sokkersterre in die Verenigde Koninkryk depressie ervaar terwyl hulle gespeel het. ’n Derde van Olimpiese atlete ervaar depressie ná die afloop van ’n Spele.

Wanneer ’n atleet uit sport tree, verval sy ondersteuning- en sosiale netwerk. Baie van hulle het ná hul uittrede geen kontak met hul spanmaats nie.

“Terwyl sportsterre op die elite vlak is, is hulle konstant in ’n hoë adrenalien fase en lewenstyl en dan is daar skielik niks daarna nie,” sê Greyling.

“Hulle is so besig met oorlewing in ’n sport dat hulle nie kans kry om voor te berei op die lewe na sport nie.

“Hulle kan dan net nie die normale lewe hanteer nie.”

Wat nie help nie, is dat daar vir sporthelde hierdie stigma daaraan kleef om te sê “ek cope nie”, sê Greyling.

“Hulle kan nie aanvaar dat hulle ’n swakheid het nie. Want hulle was vir jare in ’n sterkman-kultuur. Vir jare was hulle in ’n sport waar swakheid uitgebuit is.

“Hulle sukkel om te erken hulle het ’n probleem, want vir baie van hulle is dit moeilik om te cope met die lewe na sport.”

Gielie Hoffmann, ’n lewensafrigter wat met atlete, leiers en entrepreneurs werk, is dit eens met Greyling.

Vir die meeste sportlui, soos rugbyspelers, is die sport tussen 15 en 20 jaar deel van hul lewens. Vir dié tydperk was dit al wat hulle geken het. Vir dié tydperk was hulle omring met spanmaats met wie hulle al hul tyd spandeer het. Daar was besige tye, maar ook af tye. Die verantwoordelikhede by die huis soos om gras te sny, was nie die hoogste op hul prioriteitslys nie.

Skielik moet hulle aanpas by ’n “normale huishouding” se roetine. En by ’n roetine wat ’n werksdag van agt tot vyf kan insluit.

“Nie almal is in ’n goeie finansiële posisie as hulle aftree nie. Baie van hulle moet op ’n hoë ouderdom eers begin werk. Van hulle het nie eens ’n tersiêre opleiding nie. En dan moet hulle onder begin,” sê Gielie.

“Dit is ’n groot lewensverandering vir meeste sportsterre. Baie van hulle beleef dit baie traumaties.”

Baie kan dit ook nie hanteer dat mense ná ’n jaar of twee van hulle vergeet nie en dat hulle nie meer die ster op almal se lippe is nie, maar nou oor dieselfde kam geskeer word as Jan Alleman.

“Sportsterre moet strukture in plek kry vir die lewe ná die sport. Jy moet seker maak jy speel nie die Saterdag ’n wedstryd en die Maandag het jy niks om te doen nie. Daar moet iets wees wat jy kan doen.

“Depressie se gevaar is dit sluip op op jou. As jy dit eers besef, het dit al klaar gevorder. Dit is dan moeilik vir hulle om hulp te gaan vra, want dit is nie deel van ’n sportman se geaardheid nie.”