Die Broadway-musiekblyspel The Lion King, gegrond op die Disney-film oor die leeuwelpie Simba, het op 6 Oktober vanjaar reeds amper R10 biljoen verdien. Die produksie is die beste verkoper in die geskiedenis van dié New Yorkse teater, is bekendgemaak op die webtuiste broadwayworld.com.

Byna 16 jaar nadat die produksie sy debuut op 15 Oktober 1997 gemaak het, sal dit later vandeesmaand net op Broadway die $1 miljard-kerf bereik, berig die Hollywood Reporter. Geen ander produksie kan hom hierop roem nie en Simba sal dan as’t ware die koning van Broadway ook word. Die produksie het wêreldwyd al by die R50 miljard verdien.

The Lion King, wat ook in Suid-Afrika te sien was, is al in 98 stede wêreldwyd vertoon en sowat 70 miljoen mense het dit al gesien. Dit was al op elke vasteland buiten Alaska. Die verhoogproduksie is ook in agt tale (Japannees, Duits, Koreaans, Frans, Nederlands, Mandaryns, Spaans en Portugees) vertaal. Op die oomblik toer die produksie deur Noord-Amerika, Tokio en Japan en is dit in Londen se West End, Hamburg, Madrid en Sao Paolo te sien.