Niks kan jou naweek versuur soos ’n e-pos van die kantoor af nie. Al moet dit wag tot Maandag, kan ’n ontydige e-pos of twee ’n Saterdagmiddag-braai saam met vriende of Sondagmaal saam met jou familie van die lekkerte ontneem.

Dis hoekom die koelste land wat daarvoor bekend is dat hulle werknemers 30 dae verlof per jaar en 16 weke betaalde gesinsverlof gee, besluit het om hulself nog koeler te maak toe hulle wetgewing gewysig het om mense die reg te gee om hulle te "ontkoppel".

By die huis is die werkplek die kombuis, badkamer en slaapkamer. ’n E-pos van die werk af word ’n persoonlike WhatsApp-boodskap of dalk ’n SMS en voor jy jou kom kry, werk jy jou morsdood. Jy is by die huis, maar nie eintlik nie en dit hou nadele in vir jou verhoudings tuis.

Dus het Frankryk besluit: As die maatskappy waar jy werk meer as 50 werknemers het en dit in Frankryk gebaseer is, het jy die boerpot gewen. Maatskappye mag nou nie meer hul werknemers ná ure kontak nie.

Lees ook: Hoekom moet ek nie e-posse buite kantoortyd nagaan nie?

Frankryk het hul arbeidswetgewing gewysig en stel voor werkgewers stel formele beleide op om die oorspoel van werklading te verminder en werknemers so ’n minder stresvolle lewe te help lei.

Volgens die BBC moet die beleid spesifieke tye stipuleer wanneer werknemers nie veronderstel is om boodskappe of e-posse te ontvang of te stuur nie. Hoewel daar nie boetes betrokke is indien maatskappye die riglyne oortree nie, word van hulle verwag om vrywillig daaraan te voldoen.

Die wet kom nadat in studies bevind is dit raak ál moeiliker vir werknemers om in ’n digitale era af te skakel en hulself van hul werk te distansieer. Danksy hierdie wet kan werknemers hul vrye tyd ten volle geniet en benut.

Lees ook: E-posse kan produktiwiteit benadeel

“Al die studies toon daar is meer werkverwante spanning vandag as voorheen en dat die stres konstant is,” het Benoit Hamon van die Franse Nasionale Vergadering aan die BBC vroeër gesê. “Werknemers verlaat die kantoor, maar hulle los nie hul werk nie. Hulle bly verbind daaraan deur 'n soort elektroniese leiband – soos ’n hond. Die SMS’e, boodskappe, die e-posse – hulle neem die lewe van die individu in beslag tot op die punt dat hy of sy eindelik knak.”

’n Naweek met ’n selfoon sonder klank en ’n skootrekenaar wat stof opgaar tydens ’n vakansie, klink nie te versmaai nie. Ons aan hierdie kant van die wêreld kan maar net droom . . .

Bronne: today.com, huffingtonpost.com, bbc.com, inc.com