Die “Crocodile Dundee” van die Laeveld stap versigtig nader aan die ses jong reptiele, die grootste net so ’n stuk of 2 m lank, wat in die wintersonnetjie lê en bak. Dan lig een sy kop en blaas. “Moenie byt nie, tjomma . . .”

Maar dié krokodilkenner is g’n gespierde takhaar in ’n kakiekortbroek nie. Die 23-jarige Marelize Pienaar is keurig gegrimeer en dra ’n noupassende denimbroek. Haar modieuse bloesie het sy darem vir ’n meer praktiese T-hemp verruil voor ons die krokodilkampe begin besoek het.

Net meer as twee jaar gelede nog was die donkerkop ’n tweedejaar-regstudent aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom. Maar toe sterf haar pa, Dries, aan kanker – en deel van sy erflating aan haar was 65 krokodille. En so het dit gekom dat Marelize die lesingsaal verruil het vir die krokodilkampe by Rock View Lodge, ’n wild- en gasteplaas naby Nelspruit in Mpumalanga.

“Dit was ’n moeilike tyd. Ek moes nie net my pa se dood verwerk nie, maar ook die diere versorg. Ek het eers nie geweet waar om kos vir hulle te kry nie, want my pa se skenker het skielik sy dooie hoenders aan iemand anders gegee.”

Sy moes ook haar ma ondersteun. Maar Marelize is vir geen oomblik spyt nie. “My pa sou dit so wou gehad het.”

[caption id="attachment_133556" align="alignnone" width="600"]Foto: OJ Koloti/verskaf: Laevelder/Elize Parker Foto: OJ Koloti[/caption]

Die reptiele se metabolisme is baie stadiger in die wintermaande en daarom word hulle ook minder gereeld gevoer. Daarom is dit net om te kyk dat alles in orde is dat Marelize vanoggend in haar bakkie hier by die gastehuis naby die twee krokodilkampe opdaag. Haar pa se naam, Dries, is met silwer letters agterop die klap aangebring.

Sy vertel haar pa het sowat sewe jaar gelede, toe sy nog op hoërskool was, sy eerste tien krokodille gekoop. Hy het toe ’n ooreenkoms aangegaan met Paul Viviers, die eienaar van die Rock View Lodge, om die gediertes hier in die omheinde kampies, elkeen met sy eie dam, aan te hou. Paul verskaf die grond en kampe gratis en die krokodille is ’n bykomende besienswaardigheid vir besoekers aan sy plaas en gastehuis.

Teen die tyd van sy dood het Dries 65 krokodille gehad en intussen het Marelize nog vyf kleintjies aangekoop. Dis vir haar ’n liefdestaak om haar pa se droom lewend te hou.

Die kampie waar die jong krokodille aangehou word, is net sowat 30 m van die gastehuis. Sy is bekommerd dat van die gaste se kinders moontlik die diere met klippe gooi. “Soms kry ek klippe binne die kampie.”

Die ses krokodilletjies in die kampie van 7 x 5 m is almal jonger as twee jaar. Met hul oë bot toe lyk dit kompleet asof hulle in ’n winterslaap is. Maar krokodille hiberneer nie. Die koudbloedige reptiele se metabolisme word net stadiger in die koue maande sodat hulle minder liggaamshitte- en energie benodig.

Dan sien sy dat ’n stuk draad wat ’n houtplatform bo hul dammetjie anker, deels losgekom het en in die water hang. “Dit kan die outjies beseer as hulle daarin verstrengel raak,” sê sy bekommerd en klim oor die heining om dit te gaan vasmaak.

[caption id="attachment_133557" align="alignnone" width="600"]xx Foto: OJ Koloti[/caption]

Sy beweeg versigtig nader en die krokodille steur hulle nie aan haar nie – behalwe daardie een wat sy kop oplig en blaas. Marelize vertel hoewel sy gereeld die kleiner krokodille hanteer, is sy nog nooit gebyt nie, juis omdat sy so versigtig is. Sy praat paaiend met die dier terwyl sy die draad weer aan die dwarsbalk vaswoel. Ewe stadig beweeg sy weer terug na die heining en klim uit die kampie.

Terug by die bakkie trek sy ’n paar rubberhandskoene aan voor sy ’n bevrore hoender in stukke kap en dit in die kampie gooi. Net een van die krokodille beweeg nader vir ’n happie.

Terwyl ons na die groot kamp sowat 2 km verder ry, vertel Marelize dat hulle eintlik net sowat nege maande van die jaar eet. In die winter bly hulle soms tot drie maande sonder kos. Sy gooi darem af en toe hoenderstukke in die kampe in die winter, ingeval van hulle wel honger word.

In die groot kamp lê die res van haar krokodille roerloos langs die dam. Die grootste een is ’n raps langer as 3 m.

“Kom julle! Kossies!” roep Marelize. Net hier en daar maak ’n ou kalant sy oë oop. Sy vertel in die somermaande waggel hulle nader as sy hulle roep. “Ek dink hulle herken my stem, want hulle reageer nie eintlik op iemand anders s’n nie,” sê sy.

In die somermaande verorber die krokodille saam tot duisend hoenders per maand. Marelize het groot probleme gehad toe die oorspronklike skenker van dooie hoenders kop uittrek. Ná baie trane en gesmeek het Marelize toe eindelik ’n ander hoenderboerdery oortuig om vir haar die karkasse te skenk van hoenders wat vrek.

Maar daar was ook goeie tye en snaakse oomblikke, vertel sy. Soos die dag toe sy haar pa en ouer boetie van die krokodille moes red.

Sy vertel haar pa het toe nog nie veel van hul gewoontes geweet nie. Destyds – Marelize was toe 17 – het haar pa sommer die hoenderkasse op ’n houtstomp binne die klein krokodille se kampie opgekap en hulle dan gevoer. Dié dag was Dries en haar boetie, JP, weer in die kampie, maar hulle wis nie hoe honger die gediertes is nie. Toe haar pa die bak met hoender neersit, storm die krokodille vinnig nader . . .

Pa en seun is met een sprong tot bo-op die houtstomp, waar hulle op Marelize gegil het om te kom help. “Hulle het letterlik aan mekaar vasgeklou!” lag sy. “Toe moes ek maar die outjies met ’n stok gaan verwilder sodat die twee mans kon uitkom.”

Marelize verdien geen geld uit die krokodille nie, maar danksy die gratis gebruik van die grond en hoenders wat geskenk word, het sy darem nie veel uitgawes nie. Sy verdien ’n salaris by die Laeveldse diereorganisasie Pro-Life Pet Rescue, waar sy halfdag werk. Sy doen administratiewe werk en gaan red verwaarloosde en mishandelde diere van gevoellose eienaars om gerehabiliteer te word.

Sy raak vir ’n oomblik bewoë. ’n Mens kry baie lelike gevalle van verwaarlosing daar buite, vertel sy. Dan verklaar sy onomwonde: “Ek is diere-mal!”

Intussen sit sy haar regstudies, wat sy in haar tweede jaar in Potch moes laat vaar, voort deur Unisa. Sy wil eendag ’n staatsaanklaer word.

Haar korttermyn-droom is dat die krokodildamme ’n gereelde halte sal word vir toerbusse wat tussen Nelspruit en Pretoria reis. Sy weet nog net nie hoe om dit doeltreffend te bemark nie. Maar haar pa sou daarvan gehou het . . .