Prins William en die hertogin Catherine se hond, Lupo, het ’n toename in hondediefstal veroorsaak.

Lupo, die swart sniphond van prins William en die hertogin Catherine, is saam met hul seun, prins George, in die eerste amptelike foto van die jong gesin afgeneem. Nou wil bewonderaars van die jong koninklike egpaar so graag ’n hond net soos hulle s’n hê, dat hulle selfs swart sniphonde steel. Die aanvraag vir die soort honde is ook so groot dat hulle op die swartmark gekoop word.

Colin Butcher van Pet Detectives, wat help om gesteelde diere te vind, het aan die Daily Telegraph gesê: “Ons is tans op soek na 13 werkende swart sniphonde, en het vyf in die laaste 12 maande gevind. Dis die puntjie van die ysberg, aangesien baie mense dalk nie besef hul hond is gesteel nie. Baie dink hulle is doodgery of het weggeraak.

“Altyd wanneer ’n sekere honderas baie aandag kry, raak hulle meer gewild. Wettige, geregistreerde telers wil – en kan ook nie – aan daardie behoefte voldoen nie.”

Colin het die eienaars van swart sniphonde aangeraai om mikroskyfies in hul honde te laat plaas. Hulle sal dan makliker gevind word as hulle wegraak.