DIT was die effense krom rug en silwerwit hare wat my weer laat kyk het.

Die glimlag was gul, soos altyd. Die netjiese liglaventel rokjas is duidelik sorgvuldig gekies sodat sy nie met die natuurlike prag van die Chelsea-blommeskou moes meeding – en afsteek – nie.

Maar koningin Elizabeth het feitlik oornag oud geword.

[caption id="attachment_76854" align="aligncenter" width="262"]Koningin Elizabeth 2 Die koningin by ’n ander geleentheid in Maart vanjaar. Foto: Inpra[/caption]

Op 88 doen sy baie dinge wat ’n veel jonger vrou uitasem sal hê. Sy hoef nou wel nie huis skoon te maak, skottelgoed te was of van winkel tot winkel te ploeter om kruideniersware te koop nie, maar ’n lewe van onverdunde weelde ly sy nou ook nie.

Sy’s bekend as spaarsamig en iemand wat elke pennie omdraai voor sy dit uitgee, en sy gaan dus nie die ondervloerverhitting van die Buckinham-paleis laat aanskakel wanneer die winter nader kruip nie. Nee, ’n doodgewone warmwatersak moet die ding doen.

En wee die stomme kamermeisie wat vergeet om saans daardie warmwatersak vol te maak – sy kry te doen met Angela Kelley, wat die koningin se klere ontwerp en ’n vertroueling van die Britse monarg is. Angela se spoggerige (dog effens vreemde) titel is “die koningin se kurator van juweliersware, ordetekens en klerekas”. Die koningin se stamina het my nog altyd verwonder, veral toe sy destyds  met die Teems afgevaar het tydens haar Jubileumvierings in 2012. Nie die koue, wind of die weer het haar van haar pos laat wyk nie. Ure lank het sy so gestaan, wuiwend vir die skare wat haar van albei kante van die beroemde rivier toegejuig het. Paleis-amptenare ontken steeds dat die koningin se dagboek afgeskaal word, maar geleenthede duur korter (om die koningin se bene ’n blaaskans te gee), en senior koninklikes soos prins Charles, prinses Anne en prins William begin ál meer koninklike afsprake behartig. Charles, self op ’n ouderdom waar gewone mense aan afskaal begin dink, kry nou uiteindelik kans om sy skouers bloot te stel aan die mantel van koningskap.

Prins Charles het in Kanada amper ’n nuwe Koue Oorlog aan die gang gesit

So is daar onlangs berig dat die koningin se deelname aan ’n seremoniële geleentheid in die Westminster-abdy afgeskaal is nadat amptenare gemeen het dit sal vir haar te moeisaam wees om ’n paar trappies met ’n kroon op die kop en ’n swaar mantel om die skouers te klim. Charles moes toe daardie deel van die plegtigheid waarneem.

Tog is dit steeds die jonger koninklikes, soos William en Catherine, wat die meeste publisiteit kry wanneer hulle oorsee reis. Charles en Camilla se onlangse besoek aan Kanada sou ongesiens verbygegaan het as dit nie was vir Charles se opmerking aan ’n oorlewende van die Nazi-menseslagting oor die Rus Wladimir Poetin wat “soos Hitler” optree nie.

Dié opmerking het ampertjies op ’n nuwe Koue Oorlog tussen Brittanje en Rusland uitgeloop terwyl die koninklike spindokters desperaat voet by stuk gehou het dat Charles die opmerking in ’n privaat gesprek gemaak het. Die woordkartetse het darem ook geen diplomaat sy tas laat pak nie . . .

Nietemin, Charles se “paar woorde” het ’n klompie kommentators laat sidder. Die Britse troonopvolger is glo baie lief daarvoor om sy “notas” aan staatsdepartemente te stuur. Dit is glo onvanpas in ’n moderne monargie aangesien dit nie die monarg is wat regeer nie, maar die parlement!

Tog, nes die koningin seker oor ’n keurig gebroude koppie Earl Grey met Charles oor sy Kanadese toer sou praat, was Charles weer die een wat William moes roskam oor sy aanspraak dat hy die ivoorversamelings in koninklike besit tot niet wil laat maak (Charles moes uitwys dat die versameling van historiese waarde is).

Met al die protokol verbonde aan lidmaatskap van die koninklike familie, wonder ek wie die taak opgelê is om vir Kate te vertel dat haar roksome gewiggies sal moet kry.

[caption id="attachment_76852" align="aligncenter" width="154"]Kate Catherine Cambridge Kate se roksoom het die slegte gewoonte om dikwels deur die wind opgewaai te word. Foto: Pan Media[/caption]

Die kaalbas-foto van haar in Australië het haar seker bloedrooi laat bloos, veral omdat sy geweldig daarop gesteld is om haar rol as vrou van die tweede koninklike opvolger volmaak te vertolk. Sy en William het mos na ’n helikopter gestap toe die masjiene haar ligte somerrok opwaai. Volrond, soos gesonde tamatietjies, het hulle daar gepryk, en die arme Kate het geen idee gehad dat dit vir die nageslag vasgelê word nie . . .

En natuurlik sal ons nooit, nooit weet wat die koningin gesê het toe sy dié foto onder oë gekry het nie! Daarvoor is Liesbet te gesteld op protokol.

- Arlene

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Daar is min mense wat so baie soos sy van koningshuise oor die wêreld heen weet en daarom is sy Huisgenoot se koninklike kundige.