’n BBC-joernalis kom onder skoot nadat sy getwiet het die Britse monarg, koningin Elizabeth II, is oorlede.

Ahmen Khawaja, ’n verslaggewer by die korporasie, het die aankondiging op twitter gedoen in ’n reeks twiets wat vinnig uitgevee is.

Volgens die BBC is die twiets per abuis uitgestuur tydens ’n “doodberig-repetisie” van verslaggewing oor die dood van die heerseres.

Die twiets het gelui:

“NUUS: Koningin Elizabeth word in die King Edward VII-hospitaal in Londen behandel. Verklaring word binnekort uitgereik: @BBCWorld.”

“Koningin Elizabrth [sic] is oorlede.”

Toevallig het die koningin gisteroggend ’n roetine jaarlikse ondersoek by die hospitaal ondergaan.

Buckingham-paleis, wat bekend is daarvoor dat hulle die koningin se gesondheid privaat hou, is verplig om ’n verklaring uit te reik om die publiek te verseker die 89-jarige monarg is perdfris.

’n Paleiswoordvoerder het gesê: “Ek kan bevestig die koningin het vanoggend haar jaarlikse mediese ondersoek in die King Edward VII-hospitaal in Londen ondergaan.

“Dit was ’n roetine-, voorafbespreekte ondersoek. Die koningin het die hospitaal nou verlaat.”

Teenstrydig met die BBC se repetisieverskoning, het Ahmen vir die blaps verskoning gevra en dit op ’n “lawwe poets” blameer. Tugoptrede staar haar in die gesig. Bronne: standard.co.uk, theguardian.com, dailymail.co.uk