Jerry Lewis, wat allerweë beskryf word as die koning van komedie, hoewel gereeld aan die donker kant, is Sondag in die ouderdom van 91 oorlede.

Jerry, die oorspronklike Nutty Professor, was ’n komplekse man wat enersyds ’n stapelgek nar en andersyds ’n melancholiese akteur en sanger kon wees.

Hy en die minnesanger Dean Martin het in 1946 as ’n span gehore vermaak; hy die komediant, Dean sy teenpool. Hulle eindig op in The Martin and Lewis Show op die Amerikaanse televisienetwerk NBC. Dit sou die eerste van talle televisieprogramme wees.

Om een of ander rede skei die twee se paaie op 24 Julie 1956. Hy en sy destydse vrou Patty gaan na Las Vegas en volgens Jerry was sy selfvertroue tot niet. “Ek kon nie met selfvertroue een voet voor die ander sit nie.”

Soos talle Hollywoodsprokies, was daar ook ’n oproep wat Jerry in ’n nuwe rigting sou dwing. Die sangeres, Judy Garland, moes in Las Vegas optree. ’n Seer keel het haar egter gepootjie en haar man, Sid Luft, het Jerry genader.

Dit sou sy eerste keer solo op die verhoog wees na sy laaste optrede in dié formaat as ’n vyfjarige.

Jerry het egter die gehoor aan sy voete gehad met sy kwinkslae en deur bekende liedjies soos Rock-A-Bye Baby en Come Rain or Come Shine te sing.

“Die gehoor het ontplof. Ek het van die verhoog af geloop en geweet ek kan op my eie sukses behaal.”

’n Ernstige besering tydens ’n optrede by die Sands Hotel in Las Vegas waartydens hy van ’n klavier geval het, het hom byna verlam gelaat.

Dit sou tot ’n 13 jaar lange verslawing aan die pyntablet Percodan lei.

In 1972 waag Jerry sy hand aan die maak van ’n ernstige fliek getiteld The Day the Clown Cried. Kritici het dit afgemaak as as ’n gemors wat slegte nasmaak gelaat het. Jerry het die rol van die nar vertolk wat na ’n Nazi-konsentrasiekamp gestuur word om die kinders te vermaak.

Sy navorsing het toere na die berugte konsentrasiekampe Dachau en Auschwitz ingesluit. Jerry het vir daardie tydperk hoofsaaklik van pomelo’s geleef en sou byna 16 kg aan gewig verloor.

Maar nadat hy hulle dag opgehelder het, word hulle na die gaskamers gestuur . . .

“Ek het al die pyn op die skerm projekteer,” het hy oor sy ervaring aan die New York Times vertel.

“Die laaste toneel het my verskrik gelaat. Ek het 113 dae aan die fliek gewerk met kwalik drie uur slaap in die nag. Ek was pootuit. . . ek was uitgeklop. Toe ek oor die toneel dink, het ek gevoel ek is verlam.

Onmin tussen Jerry en Nathan Wachsberger het onder meer daartoe gelei dat die fliek nooit voltooi is nie. Jerry het daarop al die foto’s en wat van die fliek bestaan het, ’n kluis laat toesluit.

Spy Magazine het onderhoude gevoer met agt van die oorblywende akteurs wat saam met Jerry aan die fliek gewerk het. Die fliek sou as die grootste vervloekte film (film maudit) ooit beskryf word en het Jerry tot kultus-status gevoer.

Twee flieks wat jare later die lig gesien het, LIfe Is Beautiful (Roberto Benigni in 1997) en Jakob the Liar met Robin Williams (Peter Kassovitz in 1999), dra dieselfde boodskap, met een groot verskil: hulle was suksesvol. Dalk het Jerry die gruwels van die holocaust net op die verkeerde tyd getakel?

Jerry het van 1952 tot en met 2011 ’n aansienlike deel van sy lewe en loopbaan aan spierdistrofie gewy.

Op 4 September 1972 tree John Lennon in Las Vegas op as deel van Jerry se fondsinsameling ten bate van spierdistrofie.

Jerry het talle fondsinsamelings ondersteun tot 3 Augustus 2011 toe hy sy uittrede aangekondig het. Vroeg in 2016 het hy weer die stilte verbreek en ’n video vir die spierdistrofie-organisasie gemaak waarin hy ’n verklaring oor die organisasie se nuwe aanslag uitgereik het.

Op 6 Oktober 2016 erken ’n emosionele Jerry dat hy, gegewe sy ouderdom, nie meer in enige flieks sal optree nie. “Jy besef jy het nie meer baie tyd oor nie. Ek hou glad nie van daardie deel nie.”

In herinnering van Jerry is die bekende Las Vegas-wiel met groen ligte verhelder. Groen is die kleur wat aan spierdistrofie gekoppel word.

Jerry het ook erken hy’s bang om dood te gaan omdat dit sy vrou SanDee en dogter Danielle alleen sou agterlaat.

“Ek gaan hulle nie meer kan vashou nie, ek gaan nie meer vir hulle lief kan wees nie . . . en ek kan dit nie hanteer nie,” het ’n oorweldigde Jerry aan Inside Edition gesê.

Twitter se reaksie

Bronne: nytimes.comtheguardian.com, ibooks.google.com