Die eerste kolhou in die 36 jaar van die Nedbank-uitdaagtoernooi onlangs by Sun City het onderstreep hoe seldsaam so ’n hou op die gholfbaan is. Die gesoute sportskrywer Herman le Roux gee ’n oorsig van hierdie seldsame hou.

[caption id="attachment_146159" align="alignnone" width="600"]Foto: pixabay.com Foto: pixabay.com[/caption]
450

Fabrizio Zanotti van Paraguay het dit op die kort vierde putjie van die Gary Player-buiteklub reggekry.

Noem dit ’n droomhou; putjie-in-een; volmaakte gelukskoot of kolhou, maar in gholf is daar ook fratshoue – soos die een wat Louis Oosthuizen van Suid-Afrika in vanjaar se Amerikaanse Meesterstoernooi gespeel het.

Oosthuizen het in die laaste rondte op die kort 16de putjie (170 m) met ’n 7-yster die bal etlike treë regs van die pen laat beland. Dit het stadig in die rigting van die pen begin rol, die bal van JB Holmes skrams getref, ietwat van koers verander en toe na die blikkie gekrul en ingerol vir ’n besonderse arend.

En daar kry Oosthuizen dit op 14 Julie op die 14de putjie van die eerste rondte in die Britse Ope wéér reg om die bal van die bof tot in die putjie te speel. Maar dié keer was dit nie ’n fratshou nie.

Oosthuizen se fratshou in die Meesterstoernooi – die Amerikaners beskryf dit selfs as ’n “crazy shot” – herinner ’n mens aan ander volmaakte gelukskote wat in gholf se rekordboeke aangeteken word.

So byvoorbeeld, het Richard Green van Australië in 2014 se Victoria-kampioenskapstoernooi ’n sonderlinge albatros (drie onder syfer) op ’n syfervier-putjie behaal. Sy bofhou het die bal in ’n kuil langs die setperk laat beland, maar dit het uitgespring en tot in die blikkie gerol.

Nog gelukkiger was Perry Crowley, wat in Februarie 1976 by die Hidden Valley-klub in Reno (Nevada) op die 12de putjie sy bofhou laag oor ’n dam gespeel het. Die bal het uit die water gebons, ’n hark in ’n sandkuil getref, op die setperk beland en tot in die blikkie gerol.

In 2001 het Andrew Magee op die 17de putjie in die Scottsdale-Ope in Amerika sy bofhou gespeel terwyl die spelers voor hom nog op die setperk van dié syfervier-putjie was. Magee se bal het Steve Pate se setyster getref en in die blikkie beland.

In Mei 1993 het ’n gholfspeler van Hayes Centre, Nebraska, op dieselfde putjie ’n voëltjie geslaan om sy arend aan te teken. Sy bofhou op die kort putjie het ’n lewerik getref wat van die setperk af opgevlieg het. Die bal het toe in die blikkie beland. Die stomme voël het dit nie oorleef nie.

Nog meer eienaardig was Todd Obuchowski se fratshou in Mei 1998 op die kort vierde putjie (106 m) van die Beaver Brook-gholfbaan in Haydenville, Massachusetts.

Hy het sy bofhou so hard gemoker dat dit oor die setperk na die snelweg agter die putjie getrek het – waar Nancy Bachand teen sowat 50 km/h in haar Toyota verbygery het. Die bal het haar motor aan die passasierskant getref en teruggespring tot op die ver kant van die setperk – van waar dit stadig teruggerol en in die blikkie te lande gekom het!

Dit is elke gholfspeler se droom om ’n kolhou te speel. Die kans daarvoor word op sowat 45 000 teen een bereken. Maar verskillende berekeninge is al hieroor gedoen.

Daar is spelers wat dit in hul heel eerste rondte op ’n gholfbaan reggekry het. Die beroemde spelers Harry Vardon en Walter Hagen kon dit net een keer in hul lang loopbaan vermag, terwyl nog ’n bekende Amerikaanse beroepspeler, Art Wall jr., nie minder nie as 40 kolhoue behaal het.

Die 80-jarige Gary Player, Suid-Afrika se Sportman van die Eeu, het 30 kolhoue geslaan voordat hy in April vanjaar in die Syferdrie-kompetisie, voor die Amerikaanse Meesterstoernooi, op die 7de putjie ook die balletjie van die bof tot in die blikkie gespeel het.

Player se vrou, Vivienne, het in November 1978 by die Wanderers-klub twee kolhoue in een rondte gespeel – en dit op ’n derde kort putjie so byna drie gemaak.

Daar is ’n verrassend lang lys spelers wat twee kolskote op een dag gespeel het. Peter Oberholzer, ’n boer van Marseilles in die Vrystaat, het in 1969 in ’n kompetisie oor 36 putjies op Ficksburg twee kolhoue op dieselfde putjie (die 4de) behaal.

Ted McCandlish se twee putjies-in-een in een rondte is ’n besonderse storie. Op die baan in Washington waaraan McCandlish verbonde was, het ’n skoenfabrikant ’n paar skoene uitgeloof vir ’n volmaakte gelukskoot.

Toe McCandlish sy eerste droomhou speel, was die skoenfabrikant se verteenwoordiger toevallig daar naby. “Waar is my skoene?” het

McCandlish vermakerig gevra. “Nee, jy is ’n beroepspeler en daarom kry jy net een skoen vir ’n kolskoot,” het die antwoord vinnig gekom.

McCandlish het nie op hom laat wag nie en op die volgende putjie (’n syfervier) so wrintiewaar sy bofhou tot op die setperk en in die blikkie gespeel om sy paar skoene op ’n merkwaardige wyse te verdien.

Verskeie blinde spelers en spelers met net een arm het ook al volmaakte gelukskote behaal.

Die oudste is sekerlik Harold Stilson (101), van Boca Raton in Florida, wat dit in 2001 reggekry het. En die jongste speler wat tans met ’n kolhou spog, is die driejarige Jake Paine van Lake Forest in Florida.

Verder het heelwat getroude pare en pa’s en seuns op dieselfde dag hul droomhou gespeel.

Ek het self meer as 25 jaar gereeld een rondte gholf per week, meestal Woensdae op Schoemanpark in Bloemfontein, gespeel en ook vergeefs probeer om ’n kolhou te behaal. Een keer het die bal hartverskeurend 10 cm verby die blikkie gerol.

Maar ek het twee keer saam met spelers gespeel wat dit wel reggekry het – eers Gert Wolmarans, oudsportskrywer van Die Vaderland, op Schoemanpark se 6de putjie en in 1968 saam met At Nortjé op dié klub se 8ste putjie.

Laasgenoemde droomhou het nogal groot reaksie uitgelok. Ná Nortjé se kolhou het ek en Jannie Smuts elk ’n voëltjie-2 aangeteken en Johnny van den Berg ’n syfer 3 – dus 1, 2, 2 en 3.

Die gholftydskrif SA Golf het daaroor berig en navraag gedoen of dit nie dalk een of ander rekord was nie. In daardie stadium het niemand na vore gekom met ’n beter vertoning deur amateurs op ’n kort putjie in Suid-Afrika nie, maar daar is vasgestel dat vier beroepspelers in Port Elizabeth voor die oorlog 1, 2, 2 en 2 aangeteken het.

- Herman le Roux

Herman het as sportskrywer van Volksblad verslag gedoen van meer as twintig SA mans- en vroue-gholftoernooie en self meer as 25 jaar gholf gespeel. Hy het meer as 40 jaar vir Naspers gewerk en as sport- en assistent-redakteur van Beeld afgetree.

(Bronne: SA Golf, Golf Digest en plakboeke van die skrywer).