Rolene Strauss, wat in 2014 as Mej. Suid Afrika en Mej. Wêreld gekroon is, deel gereeld foto’s in die sosiale media van hoe sy met haar babamagie straal. Sy is tans besig met haar mediese studie aan die Universiteit van die Vrystaat en het vroeër aan Huisgenoot vertel hoe mooi die koms van haar en die sakeman D’Niel Strauss se baba uitwerk (’n Prins of prinsessie vir my sprokie, 18 Augustus 2016). “Dit werk so mooi uit dat ons baba tussen Desember en Nuwejaar kom – net nadat my vierde jaar klaar is en voor my finale jaar begin.”

Dit sal beteken dat hulle baba onder die sterreteken van die Boogskutter (23/11 – 21/12) of Steenbok (22/12 – 20/1) gebore word. Ons wonder of hulle kleinding die sterreteken waaronder hy of sy gebore word die pienkvoet se eienskappe gestand gaan doen!

Volgens astrology-zodiac-signs.com word Steenbokke gekenmerk deur hul professionaliteit en tradisionele waardes en die belangrike rol wat familie in hul lewe speel. Hulle het ’n onafhanklikheid wat beduidende vooruitgang in hul persoonlike en beroepslewe beteken, lê selfbeheersing aan die dag en het die potensiaal om goeie leiers te wees. Hulle is toegewyd aan hul doelwitte, wat versigtig beplan word – en bekend vir hulle ontoeskietlikheid as hulle eers ’n besluit geneem het.

Dit klink dalk ’n bietjie soos ma en pa wat albei hul doelwitte vasbeslote en vol ambisie najaag.

Boogskutters word beskryf as ekstroverte, wat energiek, optimisties en geesdriftig is en verandering, vryheid en avontuur geniet. Hulle is passievolle reisigers wat soveel moontlik wil ervaar en verken.

Dit herinner bietjie aan ma wat in haar Mej. Wêreld jaar die aardbol deurkruis het en meer as 20 lande besoek het. Die Boogskutter se geesdrif ken geen perke nie; daarom het hulle ’n wonderlike humorsin en nuuskierigheid.

Rolene deel graag inskrywings in die sosiale media oor hoe geseënd sy voel oor hulle bondeltjie vreugde wat op pad is. “Wat ’n voorreg om ’n klein, wonderwerk-mensie te laat groei. Ek bid vir gesondheid, wysheid en eindelose liefde om die kleintjie tot die beste van ons vermoëns groot te maak. Ek is dankbaar om ’n spanmaat en man van een in ’n miljoen te hê wat die pad saam met my stap.” Sy leef gesond en oefen nog gereeld. “Die kleintjie is reeds deel van die 5 vm.-klub,” het sy onlangs op pad na ’n oefensessie op Instagram geskryf. “Elke oggend vroeg saam met my wakker om ons dag reg te begin.”

Selfs al is die baba nog in mamma se maag, staan die kleinding se lewe beslis nie stil nie. “Ek weet al klaar die kleintjie gaan die lig van ons lewe wees – het al baie studie, eksamens, oefensessies en geleenthede saam met my deurgemaak,” het Rolene onlangs in nog ’n inskrywing op Instagram geskryf.

D’niel woon op Stellenbosch, sowat 1 000 km van waar Rolene studeer. Tot sy einde volgende jaar graad vang, bly ’n pendelhuwelik hul voorland. "Ons word wys, nie deur die herroeping van ons verlede nie, maar deur die verantwoordelikheid vir ons toekoms," is waardevolle woorde wat Rolene vroeër vandeesmaand op Facebook gedeel het.

Sy het bygevoeg dat daar vir die grootste deel van haar en D’Niel se huwelik afstand tussen hulle was (hulle is in Februarie getroud). “Niemand het ooit gesê dit gaan maklik wees nie; dit is moeilik elke liewe dag dat ons nie by mekaar is nie. Ons het die keuse gemaak en baie gou gaan ons terugkyk en weet dit was wys op die tyd.” Met sulke wyse en boonop pragtige ouers kan ons nie wag om die prinsie of prinsessie te sien nie!